Gemeenskapsaktiviste insluitend Fransina Lukas, provinsiale voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) in Die Wes-Kaap, verteenwoordigers van die Strand-GPF en Vroue in Aksie-beweging, buurtwaglede, en geestelike leiers het in solidariteit opgestaan en ’n petisie wat die beskuldigde se borgtog teenstaan ingedien.


Die bejaarde ouma wat tydens Vrouemaand (Augustus) na bewering deur haar kleinseun verkrag is, is die afgelope naweek oorlede.

Die 71-jarige slagoffer, wat weens die beweerde voorval in die hospitaal opgeneem is, het Saterdag (24 Augustus) beswyk.

Die verlies volg ná die beweerde verkragting wat Donderdagaand 8 Augustus by haar Casablanca-tuiste afgespeel het.

Die polisie het bevestig dat die voorval by die Strand-polisiekantoor aangemeld is en ’n saak van verkragting deur die eenheid vir gesinsgeweld, kinder­be­skerming en seksuele misdrywe ondersoek word.

Die 27-jarige kleinseun is Woensdag 14 Augustus in hegtenis geneem en het Vrydag 16 Augustus die eerste keer in die hof verskyn.

Met die beskuldigde se mees onlangse hofverskyning verlede Woensdag (21 Augustus) het ’n groep betogers buite die Strand-landdroshof saamgedrom in teenkanting teen die grudaad, wat skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het.

Gemeenskapsaktiviste, insluitend Fransina Lukas, die provinsiale voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) in die Wes-Kaap, verteenwoordigers van die Strand-GPF en Vroue in Aksie-beweging, buurtwaglede en geestelike leiers het in solidariteit opgestaan en ’n petisie, wat die beskuldigde se borgtog teenstaan, ingedien.

“Vandag is ’n hartseer dag vir ons wat hier staan, in ’n maand wat toegewy is daaraan om vroue te eer en herdenk vir hul bydrae tot die samelewing. Ons staan in solidariteit en ondersteuning aan die bejaarde slagoffer wat na bewering deur haar kleinseun gruwelik geskend is. Ons verenig om met een stem te sê ons veroordeel die misdaad wat deur die jong beskuldigde gepleeg is. Ons doen beroep op die gemeenskap om uit te kyk, sorg te neem en ondersteuning te lewer aan die kwesbares in ons samelewing. Ons staan die borgtogaansoek teen, want misdadigers soos hy behoort nie in ons samelewing nie,” het Lukas in ’n videopname buite die hof gesê.

Die beskuldigde word aangehou tot sy volgende hofverskyning op Woensdag 2 Oktober.

Niklaas Thysen het namens die Strand-GPF hul innige medelye aan die naasbestaandes van die slagoffer uitgespreek.

“Alle sterkte aan die familie en vriende, en mag God die vertrooster wees deur hierdie tyd van rou,” het Thysen gesê.

Die GPF, buurtwaglede en ander gemeenskapsaktiviste het Sondag (25 Augustus) ’n besoek by die familie van die slagoffer afgelê om hul medelye persoonlik te betuig.

Zorah Motasi, stigter van die Vroue in Aksie-beweging, het gesê die dood van die beweerde verkragtingslagoffer het as ’n geweldige skok gekom.

“Ons het die ouma se dood nie verwag nie,” het sy aangevoer. “Ons het gedink dat ons haar sou omhels met ondersteuning om haar aanvaller/mishandelaar ten volle aanspreeklik te hou vir sy dade. Die beskuldigde het ’n onverskoonbare daad gepleeg wat verrykende gevolge vir hom sou inhou, veral sy verhouding met sy gesin en die breë gemeenskap. Hy het homself as ’n uitgeworpene geposisioneer deur so ’n afskuwelike daad te pleeg en dit is hoe die gemeenskap hom vorentoe gaan behandel.

“’n Uitgeworpene bevind homself altyd in konflik met die waardes en sedes van die mense rondom hom. Daar is nie plek in die samelewing vir mense met sulke abnormale neigings nie. Ons as ’n kollektief sukkel alreeds met soveel negatiwiteit in ons gemeenskap. Ons het ’n verantwoordelikheid om die mees weerlose geroepe vroue en kinders in ons gemeenskap teen monsters soos hy, te beskerm.”

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het gesê berading sal vir familielede gereël word, indien hulle dit versoek.

Indien hulle verdere psigososiale ondersteuning of verwysings benodig, sal dit tydens hul aanstellings deur die maatskaplike werker gereël word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article