’n Petisie teen die verpligte Covid-19-inentingsbeleid van die privaatskolegroep Curro word deur ’n groep ontstoke ouers, wat op die hersiening en verandering daarvan aandring, aangevoor.
Teen Dinsdag (20 Junie) het byna 5 000 mense reeds die aanlyn petisie onderteken en nog word gewerf ter teenkanting van dié “onetiese” beleid, wat met uitvoering al glo veroorsaak het dat twee personeellede van Curro Somerset-Wes in die pad gesteek is.
Volgens ’n bron wat aan die saak toegewy is, is die petisie voorverlede Donderdag (9 Junie) ná nuus van ’n onderwyseres en ontvangsdame se vermeende afdanking, deur ’n groep ontstoke ouers van byna 80 altesaam begin. Die petisie lui: “Curro ontslaan briljante onderwysers wat nie aan die verpligte inentingsbeleid vir alle werknemers voldoen nie. As ouers van Curro-leerders vind ons dit fundamenteel verkeerd, en wil graag hê dat Curro sy beleid moet omkeer – soos Dischem en Woolworths vroeër hierdie maand gedoen het. Dit is ’n verouderde beleid.”
Anders as Curro, wat onder die minderheid is wat inenting teen die koronavirus vir werknemers verplig, het groot maatskappye soos dié wat hierbo genoem is, die beleid oor verpligte inentings opgeskort.
“Ons hoop die petisie sal die steun van so veel mense as moontlik verkry en dit sal onderteken en dan wyd en syd deel en met die nodige media-aandag genoeg druk op die privaatskolegroep plaas sodat die beleid hersien en verander word sodat hulle kan ophou om personeel wat nie teen Covid ingeënt is nie, af te dank,” het die bron gesê.
“Die boodskap wat ons wil uitstuur, is dat ons nie staan vir die skool se gedrag nie; ons beskou dit as afknouery en misbruik van mag.”
Die bron het verder gesê ouers is meer ontstoke met die skool se houding ná ’n vergadering Vrydag 10 Junie met die bestuur om hul kollektiewe ontevredenheid uit te spreek.
Hulle het gehoop die skool sou instem om die personeellede weer aan te stel en die beleid te hersien en verander. ’n Brief is egter verlede Woensdag (15 Junie) uitgereik, waarin verduidelik word die verpligte inentingsbeleid weens die pandemie vir al sy werknemers is in die laaste helfte van 2021 geïmplementeer en dit vorm die kern van die veiligheid van al sy leerders en personeel.
Die brief verduidelik verder dat die skool oor die afgelope ses maande met onderwysers gekonsulteer het oor die verpligte inentingsbeleid en tot dusver is meer as 98% van alle werknemers in die groep ingeënt.
Boonop is personeel wat verkies om nie in te ent nie, die geleentheid gebied om aansoek te doen vir ’n vrystelling om die entstof te neem.
Die vrystellingskategorieë het godsdienstige, grondwetlike en/of gesondheid- of mediese gronde.
“Die aansoekproses het oorspronklik in April vanjaar geëindig, maar is toe verleng vir personeel wat óf hul posisie heroorweeg het óf bykomende tyd nodig gehad het om hul inligting in te samel. Ongelukkig het sommige personeellede verkies om hulle nie te laat inent nie, en hulle het ook nie aansoek om vrystelling gedoen nie,” lui die brief.
“Die eerste fase van tugstappe is toe op personeel in hierdie kategorie toegepas.
“Ouers het verlede week in ’n vergadering hul kommer oor die beleid en verwante proses uitgespreek. Hierdie bekommernisse is deur senior bestuurslede van Curro opgeneem en by die uitvoerende span by ons hoofkantoor aangemeld. Ná terugvoer van die uitvoerende span, bly die posisie van die maatskappy dieselfde.”
Hoewel die skolegroep verder glo inenting bly die enigste beskerming teen risiko weens noue kontak uit aard van die beroep en dit verseker dat hulle trots bly op hul uitstekende rekord in die handhawing van die allerbeste sorg vir leerders, bestempel die bron hul “onetiese mikpunt vir ’n 100%-inentingssyfer” ten koste van personeel en tot nadeel van onderrig, wat saam met leerders die swaarste daaronder ly, as onaanvaarbaar.
Volgens die bron moet nog vyf personeellede ’n tugproses deurmaak.
Marí Lategan, ’n woordvoerder van Curro, het gesê as ’n toonaangewende onafhanklike onderwysgroep het Curro Holdings ’n verantwoordelikheid om te verseker dat die regte van individue altyd gerespekteer word.
“Om ’n veilige omgewing te bied vir sy personeel, leerders, ouers en die gemeenskappe wat dit dien, bly ’n topprioriteit – nie net om te verseker dat die organisasie sosiaal verantwoordelik bly nie, maar ook in terme van die gesondheid- en veiligheidsvereistes,” het sy gesê.
“Kennis moet geneem word dat die werknemers wat tans deel van die tugproses vorm, werknemers is wat opsetlik geweier het om aan die maatskappy se beleid te voldoen asook om die geleentheid wat aan hulle gebied is om hul bekommernisse en/of geldige redes om nie daaraan te voldoen nie, te bespreek.”
Sy het verder gesê Curro Holdings sal in hierdie stadium geen verdere besonderhede deel nie, maar herhaal sy volgehoue ??verbintenis tot sy nakoming van wetgewing.



