Die negejarige sukkel om te slaap ná die vermeende ontvoering wat hy vrygespring het.Foto: Jamey Gordon


“Wees altyd waaksaam en bewus van jou kinders se bewegings. Hou ’n oog op hulle en bespreek gereeld die gevare en potensiële bedreigings van die samelewing met hulle.”

So moedig Raymondé Swart van Strand ouers aan nadat haar negejarige seun die afgelope naweek ’n vermeende ontvoering vrygespring het.

Sosialemediaplatforms was aan die gons nadat nuus oor die voorval wyd en syd versprei is om bewustheid te bevorder.

Die 43-jarige ma van vier vertel sy is Saterdag (7 Desember) soos nog nooit tevore nie die skrik op die lyf gejaag deur die voorval wat omstreeks 15:00 afgespeel het toe haar jongste kind glo in Naomistraat, waar hulle woon, na die hoek van Bosch- en Van Rheedestraat gestap het om ’n maatjie af te sien.

“Iemand in ’n silwer motor het uitgeklim en die kind om die lyf gegryp. Net voordat die kind in die motor ingedwing is en hulle met hom weg is, het my kind aan sy vriend geskree om te hardloop,” vertel sy.

Volgens die ouer onthou die seun dat die motor met vier manlike insittendes met maskers omgedraai en weer by Boschstraat verbygery het, vermoedelik om sy maatjie op te spoor. Daarna het hulle in die rigting van Gordonsbaai weggery.

Toe hulle naby die vulstasie stilhou, het hy gesien een van die agterdeure was nie gesluit nie en die kans aangegryp om te ontsnap. Hy het een aanvaller met sy elmboog geslaan en die ander agtertoe geskop, waardeur hy daarin geslaag het om verby ’n ander te kom en uit die motor te spring en te vlug. Hy het toe na sy ouma se woonstel in Hibiscusstraat gehardloop, waar ’n sekuriteitsbeampte hom by die hek binnegelaat het.

“Ek was nervous,” deel die seun, wat verder vertel het die mans het nie veel met hom gepraat nie, maar wel aan hom gesê het “hou jou mond”.

Swart is later deur haar skoonma gebel met die nuus van die gepoogde ontvoering. “Ek kan nie beskryf hoe ek gevoel het en wat deur my gedagtes gejaag het nie,” meen Swart.

Die ouer verduidelik dat hulle die middag by haar suster in Noltestraat deurgebring het, en dat dit is waarheen haar seun sou stap nadat hy die maatjie afgesien het.

“Ek is net dankbaar vir die Here wat ingetree het en dat my kind weggekom het,” het sy vertel.

Volgens Swart is haar “babatjie” oukei, maar sukkel hy om nog deur die nag te slaap. “Hy is baie aktief, maar weens die voorval was hy nog nêrens nie.”

Haar man, Mervyn (48), wat ’n bekende platejoggie en lid van die Weltevreden-buurtwag is, het gesê hy worstel steeds met hoe anders dinge kon gewees het as hul seun nie daarin geslaag het om van sy ontvoerders te ontsnap nie.

Hy het sy dankbaarheid uitgespreek vir die gewaardeerde ondersteuning van die buurtwag ná die voorval.

Die Strand-polisie het ’n saak van ontvoering geopen vir nadere ondersoek. . ’n Man vermoedelik in sy dertigs is glo Woensdag 4 Desember in Macassar deur gemeenskapslede aangerand nadat hy daarvan beskuldig is dat hy foto’s van kinders geneem het.

Video’s van die voorval is op talle sosialemediaplatforms versprei. In een van die video’s kon ’n stem gehoor word wat beweer het dat twee mans glo kinders probeer ontvoer het.

Volgens die Wes-Kaapse polisiewoord­voerder, lt.kol. Malcolm Pojie, het die Macassar-polisie omstreeks 14:00 op die toneel gereageer. “Die man is na ’n mediese fasiliteit vervoer nadat hy deur die skare aangerand is,” het Pojie gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article