Kathey Hankey van die Sir Lowry’s Pass-plaaswag en Colleen Pienaar by die opleidingsentrum wat hulle hoop ’n positiewe verandering in dié gemeenskap sal bring.Foto: Yaseen Gaffar


Dit was eens die ou Sir Lowry’s Pass-hotel, ’n gewilde gemeenskaps-venue geleë in die oulike en sjarmante sendingdorpie duskant die spoorweg. Deesdae is dit ’n baken van hoop en inspirasie vir inwoners, danksy ’n vrou wat haar hart en siel toewy aan die opheffing van die gemeenskap om haar.

Colleen Pienaar woon op die perseel en bied die afgelope 27 jaar versorging in alle vorms aan die dorp en sy inwoners – hetsy as versorger van verlate troeteldiere, voeder van honger kinders, insamelaar en uitdeler van klere of koördineerder van noodverligtingspogings.

Sy wil egter veel meer doen – sy wil ’n plekkie bou waar mense nie net hulp kry nie, maar ook ’n lewensvaardigheid leer om hulle uit ’n lewe van armoede te red en die hupstoot bied wat hulle broodnodig het.

Die voormalige hotel, wat oorkant die Sir Lowry’s Pass-satelliet-polisiekantoor geleë is, is jare gelede deur ’n gemeenskapslid gekoop en het die private tuiste van Pienaar en haar weldoeningsbedrywighede geword. Sy het besluit om twee kamers op te offer en het dit in klaskamers omgeskep, maar die vertrekke benodig basiese meubels, toebehore en uitrusting.

“Maar dis ’n begin . . . die begin van ons droom,” het Pienaar gesê. Sy het haar verlede jaar as ’n fasiliteerder vir tuisversorging bemagtig en ’n groepie vroue uit die gemeenskap het haar klasse bygewoon, van wie vyf vandag as tuisversorgers werk.

“Mense het vaardighede nodig, nie net goedere wat aan hulle uitgedeel word nie,” het Pienaar gedeel. “Ons wil ’n veilige, rustige ruimte skep waar mense ’n vaardigheid, ’n ambag of iets kan leer, wat daartoe sal lei dat hulle werksgeleenthede kry en hulle en hul gesinne kan ondersteun. Dit is ons missie om vaardighede aan ander, tot hul voordeel, te leer.”

Volgens Kathey Hankey geniet die inisiatief die ondersteuning van die Sir Lowry’s Pass-plaaswag. “Die idee om ons gemeenskap met vaardighede te bemagtig, is deel van ons etos,” het sy verduidelik.

“Baie jeugdiges is ledig op straat en misdaad kan toegeskryf word aan werkloosheid. Dus is hierdie projek iets waaraan ons as die plaaswag ons toegewy het en ten volle ondersteun deur middel van verhoudings wat ons deur ons netwerk gesmee het. Dit pas in by ons doel om proaktief op te tree en hulp aan die gemeenskap te verleen, in plaas daarvan om net op voorvalle te reageer.”

Die hoop is om onderrig en opleiding aan gemeenskapslede te bied, ongeag die bedryf, en dat die opleiding dan deur die seisoen ervare of professionele vrywilligers aan hulle kan oordra – hetsy dit nou huishoudelike vaardighede, noodhulpbehandeling, naaldwerk, kelnerwerk, tuisversorging, verfwerk, tuinmaak, basiese loodgieters- en elektriese-werk en dies meer is.

“Baie mense in die dorp sukkel met Engels, dus as iemand een of twee keer per week hul tyd kan opoffer deur dié klasse aan te bied, sal dit baie waardeer word. Die perseel sal ook as ’n veilige hawe dien waar skoolgaande kinders hul huiswerk kan kom doen, dus het ons ook die hulp van onderwysers nodig.”

Alle klaskamers op die perseel is skoongemaak en netjies geverf. Die vaardigheid-sentrum benodig basiese kombuistoerusting, banke, stoele, blindings, ’n drukker, skootrekenaar, televisiestel en meer. Pienaar doen ’n beroep op die Helderberg-gemeenskap om die inisiatief deur middel van skenkings daarvoor te ondersteun.

“Dalk kan ons die klaskamers uitbrei en ’n dagsorg of skool oprig, of dit kan ’n volwaardige opleidingsentrum word. Dit is net die begin van ’n ambisieuse droom,” het sy trots vertel.

Die groep beoog om aanstaande Woensdag (9 Februarie) reeds met klasse te begin, en sy sê uitdruklik die klasse het geen ouderdomsbeperking nie. Dit sal sterk op skoolverlaters en diegene wat werkloos is, fokus.

Waarom is Pienaar so passievol oor die inisiatief?

“Die gevoel wat ek ondervind wanneer iemand wat aan my deur klop, ’n toekoms gebied word, is van onskatbare waarde,” het sy blitsvinnig geantwoord.. Lesers wat die projek wil ondersteun of as vrywilligers wil werk, kan Pienaar by 084 552 1150 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article