Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek ’n saak van moord nadat die lewe van ’n middeljarige man in ’n skietvoorval waarby polisiebeamptes betrokke was, geëis is.
Die voorval het verlede Maandag (17 Februarie) in die vroeë oggendure in die Firgrove-gemeenskap afgespeel.
Volgens ’n Macassar-polisiewoordvoerder het ’n groep van tussen 10 en 15 beamptes verbonde aan Operation Restore – ’n optrede waarin polisiebeamptes ontplooi word in gebiede waar misdaad hoogty vier – op ’n adres in Sewendestraat toegeslaan en die perseel na bewering vir dwelms deursoek.
“Daar was glo ’n inhegtenisneming. Die skare het na bewering oproerig geraak en die polisiebeamptes het gevolglik glo twee waarskuwingskote afgevuur. Die oorledene is in die proses noodlottig gewond,” sê die polisiewoordvoerder.
“Die skare het na bewering die polisievoertuie met klippe bestook en die beamptes het glo uit die gebied onttrek en by die Macassar-polisiekantoor aangemeld.”
Die provinsiale polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk het by navraag gesê die omstandighede rakende die voorval is die onderwerp van ’n Opod-ondersoek en het DistriksPos & Helderberg Gazette na die polisiewaghond verwys.
Opod se woordvoerder, Phaladi Shuping, het bevestig dat die voorval aangemeld is en ondersoek word, maar kon geen verdere besonderhede teen die koerant se druktyd Dinsdagoggend deel nie.
Die oorledene is geïdentifiseer as Nathan Robertson, ’n 46-jarige pa en broer van Raithby. Robertson het glo ’n stryd teen dwelmverslawing gevoer.
‘n Naasbestaande het in ’n telefoniese onderhoud aan die publikasie gesê dat hulle nie oor die voorval kommentaar kan lewer nie, juis omdat dit deel vorm van ’n moordondersoek en omdat hulle nie self op die toneel was nie.
Sy het wel meegdeel dat hy iemand was wat almal wou help waar hy kon en niemand leed wou aandoen nie. “Hy het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad en ander met sy grappies vermaak. Hy was ook altyd vriendelik teenoor ander,” het sy gedeel.
Volgens die naasbestaande maak die verlies van die geliefde seer, maar hulle kan nie anders as om die werklikheid te aanvaar nie. Robertson word oorleef deur twee susters en drie kinders – sy twee tienerseuns en ’n 24-jarige dogter.
Volgens ’n bron was Robertson ’n oud-leerder aan die Hoërskool Gordon en het hy die skool se vlag ontwerp. Hy en ander leerders het hul ontwerpe ingeskryf vir ’n kompetisie wat deur die Geskiedenisvereniging gereël is.
Robertson se ontwerp het die meeste stemme in ’n leerderverkiesing gekry en die ontwerpkompetisie gewen.
’n Begrafnisdiens vir Robertson word vir Saterdag (1 Maart) gereël.


