Sir Lowry’s Pass-inwoner Dalene Gordon se huis het tydens Maandag se oorstromings ineengestort. Die 55-jarige en haar seun is twee van talle gemeenskapslede wie se wonings wat weens waterskade verwoes is.

Credit: SYSTEM

Sy was by die werk toe sy die oproep ontvang oor skade wat weens die oorstromings aan haar huis aangerig word. Die perseel was oorstroom en die dak het begin lek; toe het die voorste buitemuur van hul tuiste inmekaargesak en haar voorhuis en slaapkamer aan die elemente ontbloot. Die symure het gevolg en later is die hele huis verwoes.

“Ek het met trane na die oorblyfsels van ons woning gestaar. Dit was asof die afgelope twee dekades van ons lewe saam met die huis inmekaargestort het,” herroep Dalene Gordon van Sir Lowry’s Pass die hartverskeurende prentjie wat haar en haar gesin tot stilstand geruk het.

Die 55-jarige ma en haar 25-jarige seun is dakloos en sonder heenkome gelaat nadat hul tweeslaapkamerhuis in Brinkhuisstraat Maandag (25 Septem­ber) tydens die oorstromings inmekaargesak het.

Die tragiese werklikheid is een van vele in verskeie hoeke van die Helder­berg, wat weer eens geteister is deur oorstromings nadat swaar reënbuie die provinsie Sondag (24 September) oornag getref het. Owerhede is na tonele ontbied waar paaie in waterweë verander het, visse in strate geswem het, huise en informele nedersettings ondergedompel is, en bome en kragpale ontwortel is. Clarence-rylaan (R44) is Maandagoggend weens rotsstortings gesluit en modderstortings is in Gordonsbaai aangemeld.

Inwoners in nood

Charlotte Powell, die Stad Kaapstad se ramprisiko-woordvoerder, het by navraag bevestig die Stad is die afgelope 24 tot 36 uur wydverspreid weens die gure weer geraak.

Powell het gesê die rampkoördineringskomitee, bestaande uit alle Stadsdepartemente en verwante eksterne dienste, is sedert Sondag geaktiveer en bly in werking om die impakte te bestuur.

“Oorstromings by huise en paaie, ontwortelde bome en elektrisiteitsonderbrekings is in baie dele van die stad aangemeld. Spanne het begin werk om die uitwerking te hanteer, waar die heersende weerstoestande dit toelaat.”

Teen Maandagoggend is verskeie Helderbergse informele nedersettings, insluitend Rasta Camp en Riemvasmaak in Sir Lowry’s Pass en Sandvlei in Macassar, oorstroom. Formele huise in verskeie gebiede, insluitend Macassar, Faure, Strand, Gordonsbaai en Knorhoek, was ook onder water.

Daarbenewens het nooddienste tot die redding gekom van talle mense, onder wie kinders, wat Maandag in die vroeë oggendure in verskeie huise in Strand vasgekeer was.

Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad se brandweer-en-reddingsdienste, het brandweerspanne net ná 04:30 op ’n oproep van kinders wat vasgekeer was in ’n huis in Visserstraat met ’n stygende watervlak, ontvang. “Brandbestryders van Sir Lowry’s Pass was in die omgewing en het gaan help. Die span het daarin geslaag om die minderjariges – vier meisies en twee seuns – uit drie huise in die straat te red. Die stygende watervlak het egter die brandweerwa laat stilstaan ??en die kinders is gevolglik van die brandweerwa na ’n vulstasie gedra en net ná 06:00 deur burgerlikes na die Strand-brandweerstasie vervoer,” het Carelse gesê.

Strate oor die Strand heen het in riviere verander, en sommige inwoners het bote gebruik om te ontsnap.Foto: Don Marx

Baie paaie was weens die hoë watervlakke ontoeganklik.Foto: Don Marx

Tientalle huise het skade opgedoen toe water by hul huise ingestroom het. Foto: Don Marx

Oorstromings oral

Volgens Powell is bejaardes uit ’n tehuis in Somerset-Wes, sowel as altesaam 170 mense in Sir Lowry’s Pass, na die gemeenskapsaal geneem.

Ontruimings is ook in Sandvlei, Faure en ander dele in Strand van stapel gestuur.

Oorstroming van paaie is reg oor die stad aangemeld, en die Kom is geen uitsondering nie. Powell het gesê die N2-hoofweg by Victoriastraat in Somerset-Wes is erg geraak. Die pad is teen druktyd Dinsdagoggend heropen. Reddingsaksie is ook geïnisieer nadat ’n groep mense, wat blykbaar by ’n Kogelbaai-oord weens sluiting van paaie wat na Gordonsbaai en Rooiels lei, vasgekeer was.

Volgens die Wyk 84-raadslid Norman McFarlane is die Gordon-huishouding een van 44 gesinne in die Sir Lowry’s Pass-gemeenskap wat weens die oorstromings haweloos gelaat is. “Die gemeenskap is gewis een van dié wat die ergste geraak is,” het McFarlane gesê.

“Ek het toestemming verkry dat die gemeenskapsaal eerstens as humanitêre hulpsentrum gebruik kan word en ook om diegene te huisves wat sonder skuiling en verblyf is. Daar was ’n geweldige uitstorting van ondersteuning van die breër Somerset-Wes-gemeenskap; in hierdie verband het ons bakkievragte klere en skoene, komberse en kosgoed ontvang by die Sir Lowry’s Pass-gemeenskapsaal, waar Gift of the Givers-verteenwoordigers noodlenigingspogings koördineer.”

Gordon, wat vir die gemeenskapsorganisasie Joya Homes (wat onder die Home from Homes-saambreel val) werk en tans as pleegouer vir vier kinders in Broadlands Village sorg, het danksy werk tydelik ’n dak oor haar kop. Haar seun bly by ’n vriend wat hom vir tyd en wyl uithelp. “Ons weet nie hoe en wat ons vorentoe gaan maak nie,” het Gordon bygevoeg.

Sy het verduidelik hulle het die huis wat ineengestort het, vir langer as 10 jaar hul tuiste genoem. Sy het die huur oorgeneem ná die verlies van haar ma, Muriel, in Desember 2010. Die 64-jarige het voor haar afsterwe ook meer as 10 jaar in die huis gewoon.

Volgens die raadslid Carl Punt is die gebiede in Wyk 83, wat die ergste onder die stormweer gebuk gegaan het, die Rusthof-woonbuurt waar die meeste inwoners kniediep binne hul huise in water was; Joubert- en Brand-straat wat ná die afkom van die Lourensrivier, wat sy walle oorstroom het, onder water was; Victoriapark waar toegang tot die woonbuurt weens oorstroomde roetes bemoeilik is en huise oorspoel is; Gants-sentrum tussen die stegie en die Lourensrivier; en Kays-woonwapark wat danksy ondersteuning van Helpende Hand ontruim is. “Die situasie het klem geplaas op die belangrikheid van die Lourensrivier-verligtingsprojek, waarvan die eerste fase in die nuwe boekjaar begin,” het Punt bygesê.

Fyn dopgehou

Hy het verder ’n pluimpie gegee aan Strand-buurtwag, wat soos Strand se eie ramprisikobestuur opgetree en inisiatief gebruik het om oorstroomde paaie met lint af te sper, asook Helpende Hand vir hul ondersteuning.

Die Wyk 109-raadslid Peter Helfrich het bevestig die Sandvlei-, Kramat- en dele van Faure-gemeenskap is gebiede wat die ergste deur die oorstromings geraak is. “Ons ramprisikobestuurspanne is op die terrein sedert die oorstromings begin het en het die situasie fyn dopgehou om te verseker dat daar geen verlies van lewe is nie en om enige potensiële beserings te voorkom. Ons moedig inwoners aan om te aan plaaslike niewinsgewende organisasies, wat met noodlenigings­pogings help, te skenk,” het Helfrich gesê.

Powell het bevestig weerver­wante kragonderbrekings word in verskeie dele van die stad ervaar. Op plaaslike bodem het Sir Lowry’s Pass en Macassar vir ure – in sekere dele selfs dae – sonder krag gesit.

“Elektrisiteitstegnici het aan dié gebiede aandag gegee om krag te herstel. Assesserings word vandag [Dinsdag] hervat,” het Powell gesê.

Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het Maandagmiddag ’n besoek aan die Kom en geaffekteerde gemeenskappe afgelê om die omvang van die skade te assesseer.

Strate oor die Strand heen het in riviere verander, en sommige inwoners het bote gebruik om te ontsnap.Foto: Don Marx

Baie paaie was weens die hoë watervlakke ontoeganklik.Foto: Don Marx

Tientalle huise het skade opgedoen toe water by hul huise ingestroom het. Foto: Don Marx

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article