Vertoë is verlede Donderdag (19 Januarie) aan die gemeenskap gerig om die Strand Sekondêre Skool (SS) te ondersteun om hul sportveld netjies te maak. Kort nadat die versoek gerig is, het heelwat mense die hand opgesteek om te help.
Dit beteken teen Vrydagoggend (20 Januarie) was vier grassnyers met vele hande aan boord om te help gras sny en die veld weer mooi te laat lyk.
Strand Sekondêr se nuwe hoof, Liezl Terhoeven, het die gemeenskap in ’n pleidooi vir dringende hulp gevra.
“Ons bied ons interhuis-atletiekbyeenkoms Vrydag (27 Januarie) aan, maar soos die veld gelyk het, het ons geen kans gehad om dit te doen nie. Die interhuis-atletiekbyeenkoms is so belangrik, want dit dien as ’n voeringsbyeenkoms vir die interskole-byeenkoms waar die bestes van ons skool teen ander skole se bestes meeding,” sê sy.
Die skool het laas in 2018 ’n interhuis-atletiekbyeenkoms gehou.
Terhoeven sê sy het nuwe hoop gekry toe sy sien hoe die mense op die DistriksPos & Helderberg Gazette se Facebook-inskrywing, waar die gemeenskap gevra is vir hulp, kommentaar lewer.
“Die hoeveelheid hulpaanbiedings wat ingestroom is, is ongelooflik. ’n Gemeenskapslid gaan die gras voor die skool sny en nog een het aangebied om mentorklasse vir seuns aan te bied,” sê Terhoeven.
Verlede Vrydagoggend vroeg het die Helderberg Community Orientated Project Service, beter bekend as Helderberg Cops, met twee grassnyers opgedaag. Kort daarna het die Strand-tak van Talisman Hire hul gewilligheid beklemtoon om die skool en die gemeenskap te help en twee grassnyers en petrol geborg om die sportveld skoon te maak.
Lillian Albertyn van die Somerset Wes/Van der Stel-buurtwag het ook ingespring saam met verteenwoordigers van die Oasis Training Centre in Strand asook helpers van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
’n Mens kon teen vroegmiddag al sien hoe mooi die sportveld lyk, maar die spanne moes eers ’n rukkie halt roep om middagete en water te geniet, wat deur Afriforum Strand Patrol voorsien is.
Terhoeven het almal namens die skoolbestuur, onderwysers en leerders vir hul hulp en bydraes bedank.
“Dit wat die gemeenskap vir ons gedoen het, beteken ontsettend baie vir die skool. Ons kan met ’n nederige en dankbare hart weer atletiek begin oefen en ons leerders aan sportaktiwiteite blootstel. Hierdie daad gaan nie ongesiens verby nie en gaan gewis waarde toevoeg vir ons leerders en die skoolgemeenskap,” sê Terhoeven.
Sy bevestig die skoolgemeenskap sien uit om hierdie Vrydag die interhuis-atletiekbyeenkoms op ’n skoon en veilige sportveld aan te bied.



