Die toneel waar ’n motor Sondag (27 Augustus) in Kusweg, Strand, in vlamme uitgebars het. Die voorval het in ’n parkeerterrein oorkant die munisipale swembad afgespeel en ’n Volkswagen Polo het van binne uitgebrand.Foto’s: J’andre Conradie


“Behalwe die ouer, weet niemand werklik wat die omstandighede rakende die hartverskeurende voorval is nie. Die kinders se ma het dalk in die parkeerterrein gestop om die winkel binne te gaan, of selfs stilgehou om saam met hulle skulpies langs die see te gaan optel. Máár sy was gewis by die kar toe dit in vlamme uitgebars het.”

Dít is die woorde van Mark Buchanan wat Sondagoggend (27 Augustus) eerste op die brandtoneel gereageer en ingespring het om twee sibbe uit ’n vlammehel te red.

Die voorval het omstreeks 09:30 in ’n parkeerterrein oorkant die munisipale swembad in Kusweg, Strand, afgespeel en ’n blou Volkswagen Polo is van binne verswelg (“Twee kinders, (2) en (4) uit vlammesee gered,” Netwerk24).

DistriksPos & Helderberg Gazette het kort ná die voorval berig getuies beweer die voertuig het aan die brand geslaan terwyl die kleuters glo alleen in die motor was en hul ma gou by ’n winkel ingegaan het. Bystanders wat eerste gereageer het, het wel teruggekap en in kommentaar op ’n skakel na die aanlyn- berig wat op sosialemediaplatforms geplaas is, gesê dit was gewis nié die geval nie.

Volgens Buchanan, wat een van dié was wat die bewering weerlê het, het hy oomblikke voor die voorval in ’n parkeerterrein oorkant die betrokke voertuig stilgehou. Die 47-jarige Paarliet vertel dat hy, sy 10-jarige seuntjie en dié se maatjie hul hengelgerei van die bakkie afgelaai het toe hulle die voertuig sien.

“My seun het gesê: ‘Kyk, die kar rook.’ Die enjinkap was oop en die vrou het blykbaar ondersoek ingestel. Toe skree my seun skielik, ‘Die kar brand, Pa!’

“Nadat ’n vonkie ontvlam het, was daar ’n klein ontploffing voordat die enjin in vlamme uitgebars het. Ek het herhaaldelik na die vrou uitgeroep: ‘Beweeg weg van die kar, beweeg weg van die kar!’ Maar, sy het net om die kar gehardloop. Toe ek nader gaan, het ek besef sy was paniekbevange omdat haar kinders in die motor was,” het hy gesê.

Volgens Buchanan het hy tevergeefs probeer om ’n motorvenster met sy mes stukkend te slaan en hy het sy regterhand in die proses gesny en sy linkerhand gebrand. Toe omstanders nader gekom en ’n helpende hand verleen het, het iemand skielik ’n venster stukkend geskop. Nadat die agterste venster aan die regterkant van die voertuig uitgebreek is, het Buchanan gehelp om die brandende meisie te bevry. “Dit was ’n fight-or-flight-tipe situasie. Niemand het aan hulself gedink nie en slegs op die reddingspoging gefokus,” het Buchanan, wat herhaaldelik aan van die winkeliers geskree het om nooddienste te ontbied, gesê.

Die sussie en boetie is uiteindelik deur omstanders, wat op die toneel instinktief kragte saamgespan het, uit die brandende voertuig gered.

Paramedici, brandweer- en reddingsdienste, private veiligheidsmaatskappye, insluitend Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.), plaaslike buurtwaglede en die polisie was van die owerhede wat vinnig op die voorval gereageer het. Selfs ’n wetstoepassingsduo wat ten tyde van die voorval in Kusweg na ’n voertuig-kontrolepunt in Macassar onderweg was, was deel van die skare wat die sibbe te hulp gesnel het. “Dit was ’n baie emosionele toneel. As pa van twee kinders spook die gedagte by jou dat dit enige ouer se nagmerrie kon wees,” het een van die beamptes, Vernon Elias, gesê.

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, het bevestig brandbestryders het om 09:45 op die voorval gereageer. Met hul aankoms het brandweerspanne van Strand ook gevind dat die brand reeds geblus was en wetstoepassers en ambulansdienste was op die toneel.

Volgens Heyns de Waal, bedryfshoof van GBSek., het die kinders erge brandwonde opgedoen en het GB Med Rescue-paramedici met bystand van ER24 gevorderde lewensondersteuning aan die slagoffers voorsien. Die kinders is per ambulans na die Rooikruis-kinderhospitaal vervoer en paramedici is onderweg deur metro-nooddienste se pediatrie-eenheid ontmoet.

Danielle Cargnelutti, ’n woordvoerder van die Rooiskruis-kinderhospitaal, het bevestig brandslagoffers is in die hospitaal opgeneem en ontvang behandeling. “Weens pasiëntvertroulikheid kan ons geen verdere inligting bekend maak nie.”

Die Strand-polisie het bevestig geen misdaad word vermoed nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article