Ontvoering in Macassar: Somaliër deur ‘polisiemanne’ geteiken

Die Macassar-polisie het ‘n ontvoeringsdossier geregistreer ná ‘n beweerde kaping op Sondagaand 27 Oktober, waar ‘n Somaliese man deur drie verdagtes in ‘n vermeende polisievoertuig gestop en ontvoer is.


Die Macassar-polisie het ’n ontvoeringsdossier ná ’n kaping geregistreer. Die voorval het op Sondagaand 27 Oktober in Macassar plaasgeving nadat ’n man deur drie verdagtes met ’n polisievoertuig gestop is.

Volgens die polisiewoordvoerder lt.kol. Malcolm Pojie het die klaer, ’n Somaliese burger, tussen 17:45 en 20:30 in sy bakkie op die R101 naby Croydon, Macassar, gery. Die man beweer hy is deur drie insittendes van ’n polisievoertuig, voorgekeer.

“Die verdagtes het toe glo sy bakkie afgevat en met hom weggejaag. Hulle het hom by die duine naby Macassar afgelaai,” het Pojie gesê.

Volgens ’n inwoner van Sandvlei het hy die sigbaar geskokte man omstreeks 21:10 voor die Sandvlei-begraafplaas aangetref. Hy het in die gietende reën gedink dit was sy buurman. Toe hulle voor mekaar kom, toe sien die inwoner dat die Somaliese burger verward is omdat hy het nie geweet het waar hy is nie.

Die goedhartige man het aangebied om hom huis toe te neem en dit was tydens die rit na sy huis dat die man sy ervaring gedeel het.

Volgens die barmhartige samaritaan het die slagoffer gesê die rowers het sy hande vasgebind en hy is agter in ’n motor geplaas.

“Hy het gesê hulle het gedreig om hom dood te maak. Al wat hy kon doen was om die Koran op te sê en te bid,” het die bystander oorvertel.

Speurders verbonde aan die provinsiale ondersoekeenheid vir georganiseerde misdaad ondersoek tans die omstandighede rakende die voorval.. Die polisie het ’n beroep op enigiemand met inligting gedoen om Crime Stop by 0800 10111 of die mobiele toepassing, MySAPS, anoniem te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article