Einde November het ek ons Hyundai motor na Hyundai in Gants-sentrum geneem vir ’n diens.
Die werkswinkel se ontvangsdame het later my vrou, onder wie se naam dit ingeboek is, geskakel om te sê dat die motor se battery, volgens die werktuigkundige wat die motor gediens het, vervang moet word. Daarna het ek die instruksie gegee om die werktuigkundige in kennis te stel dat hy nie die battery moet vervang nie want ek het geweet dat daar niks fout met die battery was nie.
Ná werk het ek Hyundai besoek en die dame vertel dat ek hulle later sal kontak oor die battery. Van daar is ek direk na ’n ander werkswinkel om die battery te toets. Ná ’n deeglike toets, het die werktuigkundige rapporteer dat die battery 100% in werkende toestand is.
Die volgende Vrydag, ry ek toe deur na Hyundai in Stellenbosch en vra hulle om die battery op hul toerusting te toets. Na afloop van die toets, het hulle my van ’n verslag voorsien wat bewys dat die battery geensins iets makeer nie.
Op 5 Desember, gaan sien ek mnr. Wolf Kreft en vra hom waarom sy werktuigkundige my vertel dat die battery vervang moet word ten spyte daarvan dat dit niks makeer nie. Sy antwoord was dat sy kollegas nooit so iets sal doen nie.
Ná ek die verslag van Hyundai Stellenbosch aan hom voorgelê het, het hy my verseker dat hy ondersoek sal instel en my oor sy bevindinge sal inlig.
Drie-en-vyftig dae later het ek nog niks van hom of enige van sy kollegas gehoor nie. Gevolglik, het ek Vrydag 27 Januarie omstreeks 15:25 weer besoek afgelê aan Hyundai. Daar het ek die geleentheid gehad om met die werkswinkel se bestuurder te gesels, aangesien mnr. Kreft besig was met ’n kliënt.
Ek het hom gevra waarom ek nog geen woord ontvang het oor die ondersoek nie. Hy verduidelik toe dat die werktuigkundige van niks weet nie.
In reaksie hierop het ek die bestuurder ingelig dat ek die situasie aan die koerante sal gaan verduidelik en dit moontlik op sosiale media plaas. Die bestuurder se antwoord hierop was: “Dan moet dit maar so wees.”
Tydens my eerste besoek by mnr. Kreft het ek ook aan hom vertel dat ek dit oorweeg om dié situasie aan die koerante te verduidelik. Sy reaksie hierop was: “Wat gaan u daarby baat?” My antwoord hierop is dat ek eenvoudig wou verhoed dat iemand anders in dieselfde situasie sal beland.


