Die ma van die meisietjie wat die afgelope naweek in Gordonsbaai verdrink het, het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat hul hart oopgemaak, hand in die sak gesteek en met geldelike skenkings gehelp het om ’n begrafnis wat hul sonskynkind waardig is, te bekostig.
“Baie, baie dankie aan almal, insluitend die een Gordonsbaai-polisiekonstabel, dat God julle wonderbaarlik gebruik het as instrumente om ons te help,” het Nolene van Rooyen gesê.
Dié ouer van Delft se boodskap volg nadat ’n plaaslike polisiebeampte op sosiale media ’n beroep op die gemeenskap gedoen het om finansiële ondersteuning vir die familie wat daarsonder nie die slagoffer sou kon begrawe nie.
Van Rooyen het haar geliefde tienjarige dogter, Leeyonce (“Poppie”) in die tragedie wat Saterdag (29 Januarie) by Gordonsbaai se hoofstrand afgespeel het, aan die dood afgestaan. Poppie het na bewering verdrink nadat sy en nog drie kinders, onder wie haar ouer broer, gaan swem en in die moeilikheid beland het. Haar maters kon gered word, maar sy nie.
Van Rooyen het vertel wat veronderstel was om ’n uitstappie ter viering van die buurvrou, Carmen Davids (42), se dogter se 13de verjaardag sou wees, het in enige ouer se nagmerrie ontaard.
Sy het verduidelik dat sy en haar drie kinders, Leonardo (11), Poppie en die sesjarige Tyler, Saterdagoggend saam met Davids en haar twee kinders, Keisha (16) en Sasha-Lee (13), asook Davids se broer en suster se kinders van 13 en 11, en nog drie van Sasha-Lee se maatjies vir die dag strand toe is.
“Ons het die kinders ietsie gegee om te eet, waarna hulle wou gaan swem. Ons het verduidelik dat hulle eers ’n bietjie moet wag en hulle het toe in ’n nabygeleë parkie gaan speel,” het Van Rooyen gesê. “Poppie het nog teruggekeer en kom wys hoe Leonardo oefeninge doen, en is weer weg. Kort hierna het Leonardo aangehardloop gekom en gesê ‘Poppie-hulle is besig om te verdrink!’ Ons het onmiddellik opgevlieg en ondersoek ingestel.”
Volgens Van Rooyen het Poppie, Leonardo, Sasha-Lee en een van haar maatjies sonder toestemming die water ingevaar. Die laasgenoemde twee, wat met hul aankoms nog in die water gesukkel het, is met hulp van omstanders en menseredders na veiligheid gebring. “Ek het gevra ‘Waar is Poppie dan?’ En, terwyl hulle na haar gesoek het, het ek daar in die water ’n skietgebed opgestuur en die Here gevra om haar terug te bring na my toe – lewend of dood.”
Volgens Alan Meiklejohn, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Gordonsbaai, het reddingspanne en paramedici van GB Med Rescue om 11:09 op die voorval gereageer. Die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk is ook geaktiveer en wetstoepassing, die polisie, die provinsiale regering se mediese nooddienste en ER24-ambulansdienste was ook op die toneel.
“Met hul aankoms op die toneel het menseredders ’n soektog begin om die tienjarige, wat in die branders verdwyn het, op te spoor. NSRI- en nooddienste-lede het by die soektog aangesluit. Die kind is opgespoor en uit die water gebring ongeveer 50 meter oor die strandlyn van waar sy in die water was. Kardiopulmonêre resussitasie is toegepas en die kind is in ’n kritieke toestand per ambulans hospitaal toe vervoer,” het Meiklejohn gesê.
“Dokters en verpleegsters by ’n plaaslike hospitaal het met KPR-pogings voortgegaan, maar sy is dood verklaar. Ons medelye word met die familie van die oorledene gedeel.”
Van Rooyen het Poppie beskryf as ’n rustige kind wat heeldag Bollywood-flieks kon kyk en goed gevaar het op skool. “Ons sal veral haar gelag mis.”
Poppie word Vrydag begrawe.




