Sakkie en Anita van der Merwe is terug in Strand nadat hulle vele angs-oomblikke in Israel ervaar het.Foto: Rick Marais


’n Paartjie van Strand is dankbaar om weer terug op plaaslike bodem te wees nadat ’n Christelike toer waarop hulle was in Israel deur aanvalle deur die Palestynse groep Hamas ontspoor is.

Met ’n helderkleurige serp en ’n netjiese toeknoophemp sit Sakkie en Anita van der Merwe en praat oor die toer waarop hulle was en hoe ’n missiel baie naby aan hulle ontplof het terwyl hulle op ’n lughawe in Israel was. Maar deur dit als het hul toerleier hulle rustig gehou en volgens die twee was die Here se hand die hele tyd oor hulle, en dis asof hulle in ’n “vakuum” was terwyl alles om hulle gebeur het.

Danie, Anita (72) en Sakkie (68) se seun, het Saterdag (7 Oktober) die angswekkende nuus dat sy ouers in hul hotelkamer in Jerusalem vasgekeer is, met DistriksPos & Helderberg Gazette gedeel. Dít nadat die Palestynse groep Hamas met ’n aanval toegeslaan en Israel onkant betrap het. Israel het kort hierna oorlog teen Hamas verklaar en met hul eie teenaanvalle begin. “Oor die foon kon ek die missiele hoor afgaan en die sirenes in die agtergrond hoor,” het Danie gesê. Die twee was deel van ’n Bybel-toergroep wat besienswaardighede soos die Rooisee en Klaagmuur besoek het (“Paartjie veilig tuis ná aanvalle,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 11 Oktober).

Anita beskryf die toer wat op Sondag (1 Oktober) in Tel Aviv begin het as “fantasties” en dat hulle met ’n “kop vol dinge” teruggekom het.

“Die Saterdagoggend (7 Oktober) om 09:30 se kant was ons by die graf van Lasarus. Toe ons wou ingaan toe hoor ons skote en toe vertel die gids vir ons daar is ’n troue en dit was net vuurwerke. Maar ek het ’n gefluit gehoor wat ek altyd in die weermag se tyd gehoor het en dit was toe nie net klappers gewees nie. Ek ken ’n missiel as ek hom hoor fluit. Ons gaan toe in die graf in en toe ons uitkom buitentoe, toe het die toerleiers onder mekaar begin praat en toe moes ons teruggaan hotel toe,” sê Sakkie.

Die twee het toe van hul hotel se balkon af die wit wolke van die missiele gesien, maar hulle is ingelig daar waar hulle is, is dit veilig.

“Ons sou Bethlehem toe gaan daardie oggend, maar toe stop als net daar,” voeg hy by.

Die einste Saterdag was die einde van die Loofhuttefees en die twee het tot en met Maandag (9 Oktober) toe hulle Israel per vliegtuig verlaat het in hul hotelkamer spandeer; hulle was wel uit vir ’n toer na ’n naby-geleë besienswaardigheid, maar meeste van die winkels en plekke was teen daai tyd al toe.

“Ons is toe lughawe toe, want ons vlug was Maandag middernag. Met ons aankoms by die lughawe het die motors kilometers lank tou gestaan. Daar was net mense en mense en mense in die lughawe. Bitter baie mense. Ons kon eers drie ure voor ons tyd deurbeweeg na die boarding-kant van die lughawe. Ons was toe by die lughawe se eetplekke en op daardie tydstip het ’n missiel naby aan die lughawe getref, want ons kon die trillings voel. Dit het soos ’n aardbewing gevoel. Die mense het opgespring en gehardloop, maar ’n mens het nie geweet waarheen om te hardloop nie,” sê hy.

In hul agterkoppe was hulle bang dat die vliegtuig neergeskiet en hulle deur Hamas gevange geneem sou word.

“Ons het voor die boarding-bord gesit en ewe skielik sou die Johannesburg naam van die bord af verdwyn en dan sou dit weer terugkom. Ons is toe later na ’n ander boarding-lokaal verskuif. Ons sit toe en dis later 23:30 en ons moes al aan boord gewees het, maar ons was nog nie. Ons moes net sit en wag totdat ons aan boord kon gaan,” sê Anita.

Hulle beskryf die leier van die groep asook een van die toerleiers in Jerusalem as die rustigste mense wat elkeen op hul onderskeie wyse die groep rustig gehou het.

“Omtrent ’n uur nadat die vliegtuig opgestyg het kon ons weer rustiger begin raak,” brei Sakkie uit.

Anita beskryf die “vakuum” waarin hulle was as die gebede van mense wat hulle beskerm het en die gevoel van dankbaarheid het oor albei geheers toe hul vliegtuig veilig in Johannesburg geland het.

Die twee bieg dat hulle nou die Bybel heel anders lees ná die toer.

“Dit was wonderlik om die See van Galilea te sien en te sien waar Jesus geloop het. Sulke plekke het ons gesien en besigtig en as ons nou lees van Jerusalem in die Bybel dan kan ’n mens dit in jou geestesoog sien,” sê Sakkie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article