Vier Hoërskool Strand-onderwysers het onlangs sertifikate van die Wes-Kaapse onderwysdepartement ontvang om erkenning te gee vir hul dekades lange diens.
Salma van der Merwe werk reeds die afgelope 36 jaar by dié skool en het ’n groot bydrae tot die skool as vakhoof vir geskiedenis en as sportafrigter gelewer.
Sy is ook moderator vir geskiedenis in die nasionale seniorsertifikaateksamen vir gr.12-leerders.
Koos Mostert het in 2018 afgetree en het meer as 30 jaar diens gelewer. Hy sal veral onthou word vir die baanbrekerswerk wat hy ten opsigte van die skool se geboue en instandhouding gedoen het. Hy het fisiese wetenskappe onderrig en was departementshoof.
Rozanne Mentoor is ’n departementshoof en bied die afgelope 20 jaar Engels eerste addisionele taal as vak aan. Sy is betrokke by die skool se kultuur en lewer ’n ondersteunende rol in die ontwikkeling van leiers.
Lilian Becker gee die afgelope 18 jaar rekeningkunde en reël die handboeke in samewerking met die handboekwinkel. Sy is ook verantwoordelik vir die hekdiensreëlings by sportgeleenthede op Saterdae.



