Sir Lowry’s Pass-inwoners word genooi om deel te wees van ’n vreedsame optog teen die geweld waaronder die gemeenskap gebuk gaan.

Die optog, Stop the violence, increase the peace! vind Saterdag (26 Februarie) plaas en volg ná die vermeende bendeverwante messteekvoorval wat die lewe van ’n tiener in dié dorp geëis het.

Die 17-jarige Hlumisa Xaki is Dinsdagoggend (15 Februarie) voor skool buite ’n winkel op die hoek van Nieulandweg en Magwebu-straat doodgesteek (“Tiener se moord ruk gemeenskap,” DistriksPos, Donderdag 17 Februarie).

Twee verdagtes, 18 en 14, is in verband met die voorval wat omstreeks 06:40 ten aanskoue van medeleerders plaasgevind het, opgespoor en ingebring vir ondervraging.

Sersant Suzan Jantjies, woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het met navraag vandeesweek bevestig dat die jong verdagtes wel aangekla is van moord. Die 18-jarige bly in aanhouding by Pollsmoor en die minderjarige is in die sorg van ’n jeugsentrum.

Die optog is deur die gemeenskapsaktivis Ellen Myburgh in samewerking met Athi Ndwebi geïnisieer om solidariteit in die gemeenskap te bevorder.

“Ons wil hê almal in die gemeenskap moet as een verenig om bymekaar te kom en ’n weg vorentoe te bepaal,” het Myburgh gesê.

Belangstellendes word gevra om 15:00 Saterdag by die satellietpolisiekantoor byeen te kom vir die vreedsame optog.

Daar sal van deelnemers verwag word om ’n masker te dra en sosiale afstand handhaaf. Hulle word ook gevra om by die kleredragkode van denim en wit of alles swart te hou.

.
Vir meer inligting, bel Ndwebi by 072 472 3707 of Myburgh 078 299 3362.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article