Die geveg in die Faurestraat-stadion se pawiljoen die afgelope Saterdag. Skermgreep: Facebook
Die geveg in die Faurestraat-stadion se pawiljoen die afgelope Saterdag. Skermgreep: Facebook

Die 24-19-oorwinning van die Macassar-rugbyklub se eerste span oor Vineyards in ‘n super-liga B-wegwedstryd die afgelope Saterdag (18 April) is oorskadu deur ‘n gewelddadige voorval wat ná die wedstryd by die Faurestraat-stadion in die Paarl uitgebreek het.

Die klub, wat sy tweede oorwinning van die seisoen behaal het, bevind hom nou in die middel van ‘n ondersoek deur die tugkomitee van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) nadat spanning tussen spelers en toeskouers in ‘n fisieke konfrontasie ontaard het.

Die Macassar-rugbyklub het in ‘n mediaverklaring op sosiale media gereageer en bevestig dat die voorval tydens hul wegwedstryd tans hul “volle aandag geniet”. Die klub stel tans alle relevante verslae en bewyse saam vir voorlegging aan die unie.

“Ons veroordeel geweld van enige aard ten sterkste,” het die klub beklemtoon. Hulle oorweeg ook moontlike strafregtelike klagte waar toepaslik.

Video’s op sosiale media toon hoe spelers van die gasheerspan Vineyards slaags geraak het met toeskouers op die pawiljoen, terwyl albei spanne se spe-

lers ook fisiek betrokke geraak het. Die presiese oorsaak van die voorval is nog nie bevestig nie.

Yvette Tsolo van die Drakenstein-munisipaliteit het bevestig dat die WPRU die voorval ondersoek, terwyl die Paarlse Rugbykode ook met ‘n interne ondersoek besig is.

Geen skade aan munisipale eiendom is aangemeld nie.

Die Vineyards-rugbyklub se kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article