Die Disa FM-omroeper Richard de Villiers se motor nadat hy ’n bees op die N2 naby die Pineview-afdraai buite Grabouw raakgery het. Die 75-jarige Gordonsbaai-inwoner het kort ná die voorval op die ongelukstoneel ’n slagoffer van roof geword.


“Ek was gelukkig, en is die Here dankbaar dat Hy sy engele gestuur het om my op te pas. Maar, môre gebeur dit met iemand anders, wat dalk nie so gelukkig is nie.”

So meen ’n plaaslike omroeper wat verplig voel om ander te waarsku teen die gevare wat op die N2 buite Grabouw skuil en ’n beroep doen op owerhede om motoriste se veiligheid te prioritiseer.

Die 75-jarige van Gordonsbaai het verlede Donderdag (5 Mei) wonderbaarlik beserings vrygespring nadat hy op pad werk toe ’n bees op die snelweg naby die Pineview-afdraai getref het, maar kort ná die voorval ’n slagoffer van roof geword het.

Richard de Villiers het vertel dat hy nes elke ander werksdag omstreeks 05:00 die pad aangedurf het. De Villiers is sedert 1965 in die uitsaaibedryf en stel vir 20 jaar al verkeersverslae vir verskeie radiostasies saam. Hy dien die afgelope ses jaar as omroeper by Disa 95.9 FM, ’n Christen-radiostasie wat sedert November 2015 van Grabouw uitsaai en met meer as 51 000 luisteraars spog.

“Dis net ironies dat ek vir die afgelope week verslag gedoen het oor beeste wat raakgery is, presies op die plek waar ek ’n bees raakgery het. Ek behartig die ontbytskof van ses tot nege, en ry daardie pad elke liewe dag. Net die vorige dag (Woensdag) het ek verslag gedoen oor ’n bees wat daar raakgery is en toe ek daardie oggend deurgekom het – min wetend dat ek die volgende slagoffer sou word van ’n bees raakry – het dit so vinnig gebeur. Minder as 10 meter voordat ek die bees eers gesien het, het ek hom raakgery, en toe ek hom stamp, het ek besef, oh, my goodness, ek het nou ’n bees raakgery,” het hy herroep.

“Gelukkig het die motor nie gerol nie. Ek het glad nie seergekry nie.”

Volgens De Villiers het hy onmiddellik van die pad af getrek en sy vrou gebel om haar oor die ongeluk in te lig. Terwyl hy in gesprek was, het hy twee mans aangestap sien kom. “Ek het aanvanklik gedink hulle kom my help. Maar, hulle het nader gekom om my aan te val en te beroof. Ek maak toe die deur oop, en toe begin hulle my rondpluk. Hulle gryp toe my selfoon. Die een ou het ’n mes gehad, en ek is nie meer vandag se kind nie. Ek het nie eens probeer om my tee te sit nie,” het De Villiers vertel.

Die gewapende misdadigers het ook De Villiers se slingersak (met sy beursie, bril en sleutels) van die passasiersitplek gebuit, asook ’n tweede sak met belangrike boeke wat op die agterste sitplek gelê het.

De Villiers is veral hartseer oor die King James-weergawe van die Bybel wat hy as verjaardaggeskenk van sy vrou ontvang het, wat hy kwyt is.

“Terwyl die roof afgespeel het, het ek Jesus se naam uitgeroep. Ek kon nie anders nie. Die mans het teen die bult op gevlug, oor die veld en in Blikkiesdorp verdwyn. En terwyl ek nog daar gestaan het, het mense op die toneel die bees begin slag.”

Volgens De Villiers was die bees die vyfde vir die week wat so omgekom het. Daarom doen hy ’n beroep op owerhede om straatligte op hierdie gevaarlike, donker deel van die snelweg aan te bring. Hy meen daar is mense wat motoriste staan en dophou, beeste met opset voor die verkeer injaag en toeslaan wanneer motoriste stop.

Keenan Walbrugh, Wes-Kaapse projekbestuurder vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), het by navraag gesê hulle neem kennis van die kommer wat geopper is en ondersoek tans opsies om padveiligheid op die betrokke gedeelte van die snelweg te verbeter.

De Villiers het die provinsiale verkeersbeamptes wat “soos blits” op die voorval gereageer het, en die Grabouw-polisie vir hul puik diens en behulpsaamheid bedank.

Adjudant-offisier Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “’n Saak van roof word deur die Grabouw-polisie ondersoek,” het Swartbooi gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article