’n Groothartige man van Strand wat baie mense oor die jare uitgehelp het, is die afgelope naweek vermoedelik aan ’n hartaanval oorlede.
Bold van Rhyn (56) het Saterdag (28 Oktober) vir sy vrou, Elmarie, in sy motor gewag terwyl sy by ’n winkelsentrum in Somerset-Wes inkopies gaan doen het, maar met sy vrou se terugkoms het sy gesien hy voel nie goed nie.
“My ma het my pa in die motor gekry, hy was nog by. Sy het gesien sy oë raak wild en sy het om gehardloop na sy kant toe. Sy het vir hom mond-tot-mond-asemhaling gegee en sy skree toe vir sekuriteit om ’n ambulans te bel,” sê Lencka van Rhyn, Bold se dogter.
Ná ’n uur en ’n half het paramedici hul pogings laat vaar en is hy dood verklaar.
Dis Bold se goedhartigheid wat sal voortleef in baie mense wie se lewe hy aangeraak het. Een so ’n mens was Ruby Stolsie, beter bekend as “Ouma Ruby” wat vroeër vanjaar op die ouderdom van 87 oorlede is. In Maart verlede jaar het Van Rhyn vir Stolsie sien sukkel op haar elektriese karretjie en hy het dadelik stilgehou om haar te help, min wetende hy haar hele lewe sou verander (“Nuwe begin vir geliefde Ouma Ruby,” Netwerk24, 14 Maart 2022).
“Ons gaan hom onthou as iemand wat lief was vir almal wat altyd sy laaste vir ander sou gee,” vertel Lencka.
Bold word oorleef deur sy vrou (Elmarie), sy vier kinders Bold, Ruaan, Lencka, Zelda en sy kleinkind Liam.
“My pa se begrafnisdiens vind op Saterdag (4 November) in die NG gemeente Helderberg in Somerset-Wes plaas en dit begin om 10:00.”



