’n Nuwe begin vir Beacon of Hope-kinderhuis in Genadendal.

Credit: SYSTEM

Ná maande se bid, moed verloor, weer opstaan en weer bid, het ’n kinderhuis in Gustrouw ’n nuwe veiliger tuiste (en nuwe hoop) gekry.

Engela Murray, ’n eiendomsagent van Coastland Properties in Strand, het dit vroeër vanjaar haar missie gemaak om die Beacon of Hope-kinderhuis te help om ’n nuwe veiliger perseel te kry. Sy het onlangs met ’n trekkery met Beacon of Hope te doen gekry, en toe mense by die kinderhuis hoor sy is ’n eiendomsagent, het hulle haar gevra om hulle na ’n oop erf of goedkoop perseel in ’n veilige deel van Strand te help soek met ’n R500 000-skenking wat hulle ontvang het om in behuising te belê (“Gesoek: ’n baken van hoop,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 15 Maart).

Murray het die goeie nuus Maandag 23 Oktober gedeel dat Beacon of Hope ’n perseel in Genadendal gekry het.

“Dit is nou amptelik Beacon of Hope se eiendom. Die oordrag is Donderdag 2 November ingedien, wat beteken dit is ’n dag later afgehandel,” sê Murray.

Hoewel die nuwe eiendom ’n stap in die regte rigting is, moet heelwat werk nog aan die eiendom gedoen word om dit vir die kinderhuis leefbaar te maak. Dit is juis waarom Beacon of Hope-kinderhuis tans probeer uitreik na weldoeners en die gemeenskap van Helderberg om hulle by te staan en te help met ’n heining, verf vir binne en buite, teëls vir die badkamers asook ’n bad, twee storte, drie toilette, kombuis- en badkamerkaste en ’n gasstoof, yskas, vensters, sewe beddens, meubels vir die woonkamer, ’n koolstoof vir die kombuis en beddegoed vir die beddens.

Virgil en Renay Brown van die Beacon of Hope-kinderhuis het die anonieme skenker bedank wat die koop van die eiendom moontlik gemaak het, asook Coastland Properties en Morne Sauers, wat die aktebesorging gratis hanteer het. Hulle het ook Overberg Agri, die raadslid Chris Cloete en Malandershoogte vir hul hulp en ondersteuning bedank.

Engela Murray van Coastland Properties (071 106 5559) kan gekontak word indien enige onderneming of individu ’n bydrae tot die kinderhuis se nuwe perseel wil lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article