Suid-Afrikaanse sangeres Demi-Lee Moore kuier volgende maand in die Helderberg. Sy gaan die gehoor bekoor op Saterdag 15 Julie op die nuut-gevestigde Helderberg Teatro-verhoog.

Credit: SYSTEM

Helderberg Teatro @ Doxa Deo is ’n splinternuwe, onafhanklike teater in die hart van die Helderberg wat sy deure wyd oopgooi om die kunste na die Kom en sy mense te bring.

’n Groot verskeidenheid kunstenaars en verhoogwerk gaan by die teater, wat in Somerset-Wes geleë is, aangebied word sodat daar iets in almal se smaak is. ’n Optreegeleentheid word aan ons land se voorste kunstenaars gebied, maar belangriker nog, word daar supersterre na Helderbergers se voorstoep en groter omgewing gebring.

Die 350-sitplek teater funksioneer vanuit die Doxa Deo Helderberg ouditorium, en spog met dubbelvolume en ’n galery. Die teater is baie knus, is gemat en het gestoffeerde sitplekke, maar tog het dit ’n baie moderne gevoel. Vir kunstenaars wat graag met kleiner gehore werk, kan die galery gesluit word. Die stoele kan geskuif word sodat daar per geleentheid konserte om tafels met eet- en drinkgoed aangebied kan word. Daar is oorgenoeg veilige en gratis parkering in die parkeerarea met ge-elektrifiseerde omheining. Die teater is in Melcksloot Village ’n klipgooi van die Somerset Mall af.

Konserte word hoofsaaklik op Vrydag- en Saterdagaande aangebied. Om voorsiening te maak vir die teaterliefhebbers wat nie meer saans wil ry nie, gaan daar gereeld ’n Sondag Serenade-konsert om 15:00 aangebied word. Kaartjies word op www.seatme.co.za verkoop.

Die teater open met die met die fluweelstem van Demi Lee Moore en haar orkes op Saterdag 15 Julie om 19:00, gevolg deur vertonings met Jannie Moolman op Sondag 30 Julie om 15:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article