Vroeë vriendskaplike wedstryde vind hierdie Saterdag (17 Februarie) plaas op die Charles Morkel-sportterein teen die spanne van Kleinmond. ’n Besluit is geneem om so ver as moontlik al die “nuwe” spelers speelkans te gee om hul merk te maak in die afwesigheid van verlede jaar se gereelde eerstespangroep.
Kleinmond kom met drie spanne, sowel as ’n ‘Golden Oldies’-span, Strand toe. Aan die hoof van Kleinmond is sy hoofafrigter, Theo Rodman, en fiksheid-afrigter, Shane Mulder – albei welbekend by die Helderberg-rugbyklub.
Onder die belangrike Berge-aanwinste tel die volgende agterspelers: Stewart Jacobs, Ricardo Links, Eric Myburgh, Waden Nel, Nigel Patrick en Danvino Swartland. Die volgende vername voorspelers het ook aangesluit: Kurt Titus, Blaine Skelton, Mark Sylvester, Liam Compion, Waylin Pick, Arrie van der Berg, Dale Bunding, Sheldon Mealing, Darren Ponnusamy en Stephan Joubert. Die hoofwedstryd word vir 16:00 beplan en die ‘Golden Oldies’ sal vroeg op die B-veld kragte meet. Ondersteuners sal beïndruk wees met die puik toestand van die veld sowel as die pawiljoen en die kleedkamers.


