Die Hoërskool Strand het Vrydag 1 Julie hul nuwe skoolhoof, Danie Malan, aangestel.
Malan is oorspronklik van Pretoria waar hy aan Hoërskool Wonderboom gematrikuleer het en daarna aan die Universiteit van Pretoria studeer het.
Ná hy sy nasionale diensplig voltooi het, het hy sy onderwysloopbaan by Hoërskool Staatspresident C.R. Swart begin.
Malan het daarna onderwys gegee by Hoërskool Overkruin, Pretoria, Hoërskool Jan van Riebeeck en Melkbosstrand Privaatskool, waar hy sedert 2006 die skoolhoof was.
“Onderwys is my roeping. As Christen is my skeppingsdoel om jongmense te help om hul ongelooflike potensiaal te ontdek. Positiewe verhoudinge met personeel, ouers en leerders vorm die grondslag vir ’n skool waar elke jongmens sy potensiaal kan bereik,” sê Malan, wat ook passievol oor sport is en ’n sagte plekkie vir die Blou Bulle het.
Malan geniet ook die kunste – onder meer toneel, musiek en koorsang. Sy stokperdjies is fietsry, hengel en hy geniet ook die natuur.
Hy is getroud met Marlene, ’n wiskunde-onderwyser wat sy passie vir jongmense deel. Die paartjie het vier kinders waarvan net die jongste, Carla (gr. 11), nog in die huis is. Die Malans sien uit daarna om deel van die Arende-familie by Hoërskool Strand te word.



