Liezl Terhoeven, die nuwe hoof van Strand Sekondêr, wil ’n verandering by die skool bring.Foto: Rick Marais


Die nuwe hoof van Strand Sekondêre Skool (SS), wat in 1991 by dié skool gematrikuleer het, wil nou in die skool terugploeg.

“My onderwysdroom het in Sewendestraat in Strand begin,” onthou Liezl Terhoeven, die nuut aangestelde skoolhoof van SS, wat vandeesmaand die leisels by die waarnemende hoof, John Reyneke, oorgeneem het.

“Ek het altyd ’n onderwyser, wat langs ons gewoon het, met nasienwerk gehelp. Hy het nagesien en ek het die punte op die klaslys neergeskryf. Onderwysers het my reg deur my skoolloopbaan gewys hoe hulle ’n verskil in leerders se lewe kan maak. Dit is juis waarom ek ’n onderwyser wou word.”

Terhoeven kon na sy haar matriek aan SS voltooi het, nie onderwys gaan studeer nie omdat haar broer moes gaan studeer en hul pa nie kon bekostig om albei op universiteit te hou nie.

“My broer het later besluit hy wil nie meer verder studeer nie en ek het my pa gevra om my studiegelde vir onderwys te dek. Hy het gesê hy kon dit nie bekostig nie, maar ek het hom oortuig en gesê ek wil ’n beurs kry en hy moet net as borg vir die beurs teken,” onthou sy. “Ek het my pa belowe as hy as borg vir my teken, sal ek hom eendag trots maak.”

Sy het toe by die destydse Bok College in Kuilsrivier onderwys studeer.

Daarna het sy by Rusthof Sekondêr begin werk en terwyl sy daar was, het sy haar honneursgraad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.

“Ek het daarna met my meestersgraad begin. Ek was 12 jaar by Rusthof Sekondêr, waarna ek om bevorderingsposte aansoek gedoen het. Die Here het my so geseën dat ek van posvlak een af ’n pos as hoof by ’n klein plaasskool in Grabouw gekry het. Ek was baie dankbaar vir die skuif, want hier moes ek alles self doen. Dit het my sterker gemaak. Ek het talle gemeenskapsprojekte onderneem en ’n projek begin wat vandag nog bestaan,” sê Terhoeven.

Ná vyf jaar het sy ’n pos as adjunkhoof by Pieter Langeveldt Primêr in Stellenbosch gekry. Sy het in 2018 by dié skool as skoolhoof begin waarneem.

“Ek het toe weer begin aansoek doen. Ek moes 150 keer aansoek doen voordat ek uiteindelik as hoof by SS aangestel is. Ek het by verskeie skole in die gemeenskap aansoek gedoen, want ek wou in dié gemeenskap kom terugploeg.”

Sy vertel ’n kollega het haar ingelig dat sy “te veel potensiaal het” om ’n adjunkhoof te bly en sy het toe vir ’n leierskap- en bestuurskursus by die Universiteit Stellenbosch ingeskryf, waarvan sy tans in haar tweede (en laaste) jaar is.

Sy vertel trots dat sy ’n produk van Strand Sekondêr is, en dit is hoekom sy wil toesien dat die skool tot sy voormalige glorie herstel word.

“Die kinders wat ons in die wêreld uitstuur, moet weet hulle skryf hul eie CV. Hulle moet aan binnemuurse en buitemuurse aktiwiteite deelneem. Die leerders moet globaal dink en besef hulle ding mee teen duisende ander, wat ook ’n plekkie op universiteit wil hê. Ek het hierdie jaar se matrieks ingelig dat hulle hul standaarde moet lig om hulself uit hul omstandighede te kry.”

Terhoeven vertel SS het baie uitdagings, wat probleme met bendes insluit, en sy wil die gemeenskapsleiers intrek om te help om ’n verskil te maak.

“Ons wil die leerders die geleentheid gee om hul liggies helder in die wêreld te laat skyn. Ons wil ons leerders meer as net die skoolvakke leer; ons wil hulle leer om hulself te vind. Ek wil die onderwysers laat besef dat elke seun en meisie wat hulle in hul klas het, in die toekoms deel van ’n gesin gaan wees. Die onderwysers gee klas vir toekomstige gesinne, en hulle moet die nodige waardes in die leerders inburger,” sluit Terhoe­ven af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article