Die koerant berig jaar in en jaar uit oor skole in die Helderberg wat oorvol is, onderrig teen kapasiteit aanbied en talle ywerige jong leerders wat as gevolg hiervan weggewys word en in erge gevalle gevolglik nie kan skoolgaan nie.
Die probleem is dat die Kom eenvoudig nie genoeg skole het om kinders van al ses Helderberg-gemeenskappe (Somerset-Wes, Strand, Gordonsbaai, Sir Lowry’s Pass, Macassar en Firgrove) te dien nie.
Ouers wat vir hul kinders aansoek by skole doen, word afgekeur – grotendeels weens toevoergebied, sibbe van bestaande leerders wat voorkeur geniet, en kapasiteit. Om hierdie redes ontstaan ’n natuurlike opgewondenheid wanneer ’n nuwe skool hier beplan word, en selfs nog meer wanneer dit in ’n gemeenskap soos Sir Lowry’s Pass, wat dit broodnodig het, gevestig gaan word.
Lees die berig op bl.7 vir meer hieroor. Die verwelkoming van ’n baken van hoop vir die Passenaars word saam met hulle gevier. Ons hoop dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement deurkom vir die gemeenskap, wat al lank wag, en dat die skool realiseer. Ouers word herinner dat skoolaansoeke vir voornemende gr. 1’s en gr. 8’s Maandag 14 Maart open.



