Die nuutaangestelde uitvoerende raad van die Macassar-daghospitaal. Voor (van links) is Kashiefa Sameuls (adjunksekretaris), Gail Vianna (Macassar-daghospitaal se fasiliteitbestuurder), Rhoda-Ann Bazier (voorsitter) en Rozet Adams (ondervoorsitter). Agter: Geraldine de Vries, Joseph Adams, Maureen van der Berg, Mishka Adams, Emma van der Merwe en Josephine Wanza (addisionele lede) en Fabian Wilson (administrasiebeampte by Macassar-daghospitaal). Mark Hartnick, Andrew van Wyk, Debbie Myburg en die Wyk 109-raadslid Peter Helfrich was afwesig. Foto: Lionel Benadie


Die Macassar-daghospitaal pronk vir die eerste keer in jare met ’n nuutaangestelde uitvoerende raad.

Die gemeenskapsaktivis Rhoda-Ann Bazier is as voorsitter van die gemeenskapsgesondheidsentrum se raad gekies en meen dié gemeenskapsbaken op die hoek van Hospitaalstraat en Musicalaan vier gewis ’n mylpaal met die fasiliteit wat nou ’n funksionele raad het.

“Die daghospitaal was vir jare sonder ’n behoorlike uitvoerende raad. Die voormalige raad is ontbind nadat net drie lede daarin gedien het. Ons het tans 12 lede, wat almal aansoek moes doen om in die raad te dien,” het Bazier gesê.

Sy sê dit is hul plig as uitvoerende raad om die gemeenskap te dien en elkeen is toegewy aan ’n belangrike funksie. “Dis waarom ons moes aansoek doen om hierdie poste. Ons is hier om te dien.”

Die aanstelling van raadslede volg ná ’n vreedsame optog in Maart weens swak diens (“Pasiëntdiens by hospitaal bekla,” DistriksPos, Donderdag 24 Maart). Bazier en mederaadslede Josephine Wanza en Debbie Myburg was deel van ’n groep inwoners wat aan die aksie deelgeneem het in die hoop op ’n positiewe verandering, wat wel gevolg het.

Volgens Bazier het hulle gehelp om lang wagtye en eindelose rye by die daghospitaal op te los, en dis juis kwessies soos dié wat die raad in die toekoms wil aandurf.

“Ons vra die gemeenskap om enige kwessies aan Gail.Vianna@westerncape.gov.za te stuur. Die stigting van die raad is ’n vennootskap tussen lede en die gemeenskap, en ons wil graag hand aan hand werk met die mense wat ons dien,” voeg sy by.

Benewens Bazier as voorsitter bestaan die nuutaangestelde uitvoerende raad verder uit Rozet Adams (ondervoorsitter), Kashiefa Samuels en Gail Vianna van Macassar-daghospitaal wie administrasie werk behartig. Addisionele raadslede sluit in Geraldine de Vries, Joseph Adams, Maureen van der Berg, Mishka Adams, Emma van der Merwe, Josephine Wanza, Fabian Wilson (Macassar-daghospitaal se administrasiebeampte), Mark Hartnick, Andrew van Wyk, Debbie Myburgen die Wyk 109-raadslid Peter Helfrich. Geen tesourier is nog in hierdie stadium aangestel nie.

Die raadslede het beloof om een keer per maand ’n vergadering te hou om kwessies en ander probleme te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article