Thinus Pienaar het ná byna ses jaar as hoof van rugby aan die Hoërskool Parel Vallei die leisels aan Christie Fourie oorgegee.
Pienaar is in 2015 in dié pos aangestel nadat hy as die rugbyafrigter by verskeie skole, klubs en universiteite in Suid-Afrika, Kanada en in die VSA gedien het.
Deur die implementering van gesonde spelergesentreerde afrigtingstrukture, kondisionering, streng dissipline en doeltreffende oordrag van ’n afrigtingsfilosofie, is die grondslag gelê om PV in ’n sterk rugbyskool te verander. Jaar ná jaar het PV-rugby gegroei en sterker geword tot die skool se toelating in die Premier B-liga verlede jaar.
Pienaar het besluit om weer na Kanada te verhuis en die skool bedank hom vir die groei en vernuwing wat hy by PV-rugby gebring het.
Met ’n handdruk is PV se rugbyleisels aan Fourie oorgegee.
Fourie is ’n gesoute afrigter wat sy ondervinding by Louis Kriel by die Hoërskool Overberg begin het.
Hy het ook baie tyd saam met Ryno van der Merwe van Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria deurgebring om hom skerp te hou.
Hy het reeds rugby op provinsiale vlak – Boland-o.18-akademieweek en Boland-o.19 se SA rugbykompetisie – afgerig.
Fourie se ander groot passie is onderwys en hy is ook voltydse onderwyser in tegnologie, ekonomiese en bestuurswetenskappe en wiskundige geletterdheid.
Sy droom vir PV-rugby is dat hy en sy span afrigters ’n baken van hoop vir jong manne sal wees.
Hy glo dat elkeen deur deurlopend regte prosesse elke dag daarna kan streef om beter mense en spelers te word en dat daar geen plaasvervanger vir harde werk en dissipline is nie.



