Een van Strand Fisheries se getroue klante en almal wat die winkel gereeld besoek het, het met ’n glimlag op die gesig uitgeloop. Foto: Verskaf


Ná meer as drie dekades van toegewyde diens aan die Helderberg-gemeenskap het die plaaslike egpaar agter die Strand Fisheries-handelsmerk uit die onderneming getree en die viswinkel aan nuwe eienaars verkoop.

Tony en Maggie de Gouveia het ná 35 jaar van sakesukses die leisels van hul geliefde onderneming aan hul opvolgers oorgegee en so ’n einde aan ’n merkwaardige era gebring. Maar vir diegene wat dalk wonder wat dié vis-en-tjips-gunsteling bekend onder talle lojale klante gemaak het – die viswinkel op die hoek van Market- en Abbeglenstraat het bekendheid verwerf vir sy smaaklike viskoekies, viskuite, vars of gebakte vis en ingelegde uitjies uit die boonste gestoeltes!

Die bittersoet hoofstuk in die onderneming se bestaan het klante na Facebook en ander sosialemediaplatforms genoop met kosbare herinneringe van hul ervarings by die indrukwekkende viswinkel.

Onder andere is daar ’n klant wat onthou op ’n tyd was ’n klomp Bybelverse op die viswinkel se mure en ’n mens het die eetplek altyd in ’n effens beter bui verlaat as toe jy daar ingestap het.

“Honger klante soek opsies en ons het besef ons kos moet die beste wees, want elke klant kies waar hy of sy hul swaarverdiende geld wil bestee,” sê Maggie.

Met dié soort denkwyse het die sakelui-paartjie elke klant met respek behandel en vinnig-vinnig het eerstekeerkopers gereelde gesigte geword, wat later soos familie geword het, en die viswinkel het gou en diep in die gemeenskap se hart ingekruip.

“Tony het nooit by die voordeur ingekom nie. Hy het altyd by die agterdeur ingekom en wanneer hy inkom, sou hy altyd sê: ‘Ek wil die kat in aksie vind’,” onthou ’n emosionele Maggie.

Nie net het Tony en Maggie baie klante met hul goeie diens en kos gelukkig gehou nie, maar hulle het bekendes soos wyle Taliep Pietersen se broer en Hannon Bothma, die gesig agter Glam Guru, ook as gereelde klante gehad.

“Telkemale sou mense wat nie so lekker gevoel het nie, by die winkel instap en ons vra om die ambulans te skakel. Ons het deur dit als altyd onthou dat die klante die konings en koninginne was en is.”

’n Jare lange klant het die nuus van die verkoop van Strand Fisheries as ’n groot skok beskryf.

“As ’n klant van hul familieonderneming is my hart gebroke. Ons het dit so geniet om middagetes en aandetes hier te koop. Hulle het ’n baie belangrike rol in ons lewe gespeel. Hulle het altyd hul outentieke self gewys en ons tuis laat voel. Die winkel lyk nou leeg en lyk nie soos die plek wat ons leer ken het nie. Ons sal julle mis en bid vir julle,” sê die klant.

Ná jare en jare se harde werk en lang ure het Tony en Maggie besluit om die onderneming aan nuwe eienaars te verkoop.

Maggie werk tans by ’n skool en Tony het planne vir die toekoms, wat hy nog nie kan deel nie, maar intussen wil hy meer tyd saam met sy kinders deurbring.

Business will remain in my genes. My recipe for success is to grow slowly and to give your best at all times,” vertel Tony.

Die twee het beide saam hul personeel bedank vir jare se diens en wens hulle als van die beste met hul loopbane.

Hulle wens ook die nuwe eienaars van die winkel baie sterkte toe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article