In September het ’n paar vroeëkinderontwikkelingsentrums (ECD) se hoofde bymekaar gekom en ’n blink plan beraam om ’n forum te begin wat die kinders van Wyk 100 in die Strand gaan help.
Tyrone September, die hoof van Future Kids wat onlangs hernoem is na Broadlands Pre-Primêr, verduidelik dat daar besluit is op UMUT ECD Forum, Centre of Hope vir die naam van die nie-winsgewende-organisasie.
“Ons het in September opgekom met die idee. Op 31 Oktober was die forum suksesvol geregistreer, maar dis net die begin want ons poog om volgende jaar (2024) die forum te registreer by die Stad Kaapstad,” vertel September.
Misdaad druk erg in groot dele van Wyk 100 in die Strand en dis waarom die besluit gemaak is om die forum te stig.
“Die gemeenskap gaan daagliks gebuk onder dwelms en gangterism en dis waarom ons besluit het om die forum op die been te bring om ’n veilige plekkie vir die kinders te skep. ’n Plek waar hulle kan leer deur speel.”
Broadlands Park Pre-Primary School, Love & Care Daycare Center in Broadlandspark, Little Einsteins Educare in Rusthof, Uyanda Academy Centre in Sir Lowry’s Pass en Future Kids Foundation Phase Centre is almal deel van die forum.
Rig navrae oor die forum aan umutecdforumcentreofhope@gmail.com.



