’n Helderzicht-inwoner wie se huis in 2011 afgebrand en verlede jaar amper weer in vlamme verswelg is, het onlangs weer ’n groot skok ervaar toe die dak van haar huis tydens ’n groot storm aan die begin van Aprilmaand afgewaai het.
Amber de Wet, wat in die gemeenskap as ’n kleremaakster bekend is, het Sondag 7 April met ’n groot skok agtergekom amper al haar huis se dakplate en van die balke is deur ’n sterk wind, wat tydens ’n hewige storm opgekom het, afgeruk.
Vanjaar – nes verlede jaar en in 2011 – het gemeenskapslede weer ingespring en die 73-jarige bygestaan. Die gemeenskap het op 9 Februarie 2023 met emmers vol water en ’n tuinslang ’n bekommerde Amber te hulp gesnel toe haar huis aan die brand was (“Gemeenskap blus brand,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 8 Maart 2023). “Ek was die oggend van 7 April op pad kombuis toe om ontbyt te maak toe die wind baie sterk begin waai. Die volgende oomblik toe hoor ek ’n harde slag en toe sien ek hoe waai twaalf sinkplate van my dak af,” herroep De Wet.
Dis egter toe sy wou uitkom dat sy gesien het daar is nog ’n probleem – haar voordeur en agterdeur was toe onder dakplate en ander materiaal van die dak wat afgewaai het. “My buurvrou oorkant die pad wou oorkom om te help, maar toe stop ek haar en waarsku haar sy moenie kom nie. Ek was bang van die dakplate word dalk weer deur die wind geskep en dan word sy beseer.”
Sy het egter gou haar dogter gebel, wat iemand ’n gemeenskapslid naby aan haar gebel het, en al die dakplate voor haar deure is vinnig verwyder.
“Ek bedank ’n ieder en ’n elk wat kom help het, maar veral my Hemelse Vader, wat altyd Sy hand oor my hou,” sê ’n dankbare De Wet.
Ten tyde van die skryf van hierdie berig was De Wet se seun en dié se vriend besig om vir haar nuwe dakplate op te sit, wat moontlik gemaak is deur skenkings vanuit die gemeenskap.



