Luitenant-kolonel Arnold Roux (55), die nuut aangestelde stasiebevelvoerder by die Macassar-polisie. Foto: Rick Marais


’n Nuwe besem vee skoon, en in die geval van die Macassar-polisiekantoor beoog die nuut aangestelde stasiebevelvoerder om die stasie met positiwiteit en harde werk te verhef.

Luitenant-kolonel Arnold Roux (55) het met sy eerste naweek aan diens besluit om sommer die nuwe besem te laat werk en het saam sy kollegas inhegtenisnemings gaan uitvoer.

“Ek wou die afgelope naweek net base kom touch, en toe ry ons en ek en ander beamptes het ’n paar verdagtes gaan aankeer,” sê Roux.

Hy is in 1986 in die polisiediens aangestel en was by verskeie polisie-kantore, insluitend Elsiesrivier, Bellville, Milnerton, Parow en Belhar as misdaadvoorkomingshoof en vispolhoof in diens.

Roux het in 2014 van die polisiediens weggebreek voordat hy in 2016 as kaptein weer teruggekeer het en by ’n polisiekantoor naby Kuruman in die Noord-Kaap gaan aansluit het.

“Ek het daarna weer teruggeskuif Kaap toe en by die Philadelphia-polisiekantoor as stasiekommissaris gewerk voordat ek die pos in Macassar aanvaar het,” verduidelik hy.

Roux, wat in Bellville gebore is en in Parow grootgeword het, is iemand wat baie gemeenskapsgeoriënteerd is, en dit is iets wat hy in Macassar wil toepas.

“Die polisie het nooit genoeg hulpbronne nie, maar dis juis hoekom ek die gemeenskapstrukture wil opbou. Die koördinering tussen die polisie en die gemeenskap is baie belangrik,” sê Roux.

By sy vorige polisiekantoor het die speurders ’n maksimum van 50 sake per maand hanteer en hy bieg en erken by Macassar hanteer die speurspanne maklik vier keer soveel sake.

“Dit gaan oor ’n mens se approach – jy moet weet waar jou krag vandaan kom. My krag kom van die feit dat ek ’n Christen is. Ek het baie uitdagings, maar ek glo as ’n mens se fokus reg is, sal jy sukses behaal.”

Hy gaan ook op die komende vergaderings van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) fokus, waar hy hoop die betrokkenes sal mekaar vind sodat dinge by die Macassar-GPF weer sal “regkom”.

“Ek wil nou lede se mindsets verander en hulle daardie ondersteuning gee. As ’n mens intern sterker word, sal dit na buite uitstraal. Ek het ’n oop-deur-beleid en dis hoe ek dinge saam met die span gaan laat werk,” voeg Roux by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article