Tyrone September, ’n 20-jarige van Strand, vier sy nuwe aanstelling as adjunkhoof by Future Kids Educare Centre.
Dié jongeling dien as bewys van wat moontlik is as jy nie toelaat dat jou omstandighede jou toekoms bepaal nie.
September het ten spyte daarvan dat hy in 2020 matriek gedruip het, nooit sy drome prysgegee nie. Ná die nederlaag het hy homself opgetel, oorgeskryf en geslaag. “Ek het op laerskool, en toe ek later in Hoërskool Strand was, altyd by loopbaandae vir almal vertel dat ek eendag ’n onderwyser wil word,” het hy meegedeel.
Hy het ná skool sy studies met sukses by die Universiteit van Wes-Kaap voltooi, asook ’n junior adjunkhoof- en akademiese ontwikkelingskursus.
Hy vertel hy het ná sy studies aansoek gedoen vir die pos as adjunkhoof, maar moes eers sewe maande lank wag voordat hy terugvoer ontvang het. “My verantwoordelikhede tans is om te kyk na die klasregisters, personeel se bywoning aan te teken asook om borgskappe vir die educare te werf.”
September glo die kinderversorgingsentrum word tans in die regte rigting bestuur, maar wil graag sien dit word een van die beste sentrums vir jong kinders in die Wes-Kaap. “Future Kids Educare Centre kyk tans na kinders tussen die ouderdomme van twee tot vyf. Ons beoog om volgende jaar ’n graad R-klas by die sentrum te begin,” sê hy.
Sy toekomsdroom is om vir hoërskool-onderwys by die UWK te gaan studeer.
“Baie matrikulante kan nie reg lees of skryf nie. Ek wil hulle help om beter te kan lees en skryf sodat hulle reg is vir die toekoms. Ek wil jongmense inspireer om nie hul drome op te gee nie en om enigiets te doen om hulle te behaal.”



