Stel jou voor ’n Boeing 747 of 25 Metro-busse vol jeugdiges onder 20 jaar; dit is die jaarlikse verdrinkingsyfer in Suid-Afrika. Van 1 400 tot 1 500 jongmense verloor jaarliks hulle lewens deur verdrinking.

Waarom is waterveiligheid so belangrik?

Verdrinking gebeur binne sekondes. Dit gebeur so vinnig soos in die tyd wat dit neem om ’n teksboodskap te antwoord, ’n vislyn na te gaan of sonskerm aan te wend. Dit behels alle wateromgewings – van swembaddens by die huis, borrelbaddens en emmers tot strande, damme, mere en riviere.

Lewensredding Suid-Afrika is oortuig van die belangrikheid in die samewerking en verspreiding van kennis oor waterveiligheid, om daarmee wateraktiwiteite op ’n veilige manier pret te maak.

Die organisasie wat waterveiligheid bevorder en reddingsdienste op en by die see verskaf, beveel hierdie vakansieseisoen die volgende waterveiligheidswenke aan:

By die strand

  • Swem slegs by erkende strande en swem altyd tussen die rooi en geel vlae.
  • Volg lewensredders se instruksies – hulle is maklik om raak te sien in hulle rooi en geel uniforms.
  • Hou ten alle tye toesig oor kinders naby water en maak seker dat hulle jou inlig wanneer hulle die water nader.
  • Besigtig altyd die kennisgewingsborde vir gety- en seetoestandopdaterings van die lewensredders.
  • Vra inligting by lewensredders oor seetoestande.
  • Moet nooit alleen gaan swem nie.
  • Wees bedag oor die diepte en of jy kan staan in die water.
  • Vermy om te swem in riviermonde, vuil water of gebiede met bloublasies.
  • Moenie swem direk na dat jy geëet het of terwyl jy eet nie.
  • Hou enige glas bottels of glase weg van swemgebiede.
  • Moenie mekaar onder die water indruk nie.
  • Alkohol en swem is nie ’n goeie kombinasie nie – bly altyd nugter in en by water.
  • Gaan alleenlik in die water in as jy ’n sterk swemmer is of as jy weet dit is veilig.
  • Beskerm jouself teen sonbrand met ’n hoed en sonbrandroom, wat jy herhaaldelik aanwend.
  • Vermy om op die warmste tyd van die dag in die son te wees.
  • Wees te alle tye bewus van waar om hulp te kry indien nodig.
  • As jy in die moeilikheid is, moenie paniekerig raak nie – lig jou een arm vertikaal in die lug vir bystand en aandag.
  • As jy ’n verdrinking aanskou, roep dadelik om hulp.

By die swembad:

Streng toesig en ’n behoorlike swembad-heining is van die beste maniere om ongelukke te voorkom. Hier is wat elke swembad eienaar MOET weet:

Swembad hek:

  • Moet na buite oopmaak.
  • Moet ’n selfsluitbare hek wees, met ’n knipslot.
  • Die knipslot moet minstens 1,5 m van die grond af wees.

Swembad heining:

  • Moet stewig en moeilik wees om te klim.
  • Minstens 1,2 m hoog wees.
  • Geen gapings groter as 100 mm hê nie, insluitend by die basis.
  • Verwyder enigiets naby die heining wat gebruik kan word om oor die hek te klim.

Wees gereed vir noodgevalle:

  • Leer of verfris jou KPR- en noodhulpvaardighede – skryf in vir ’n noodhulp- of KPR-kursus.
  • Maak seker dat jou noodhulpkassie volledig is.

Rondom damme, riviere en kanale:

Wanneer jy swem:

  • Hou altyd toesig oor kinders naby water.
  • Moenie swem waar bote en ander vaartuie aktief is nie.
  • Vermy om te swem in donderstorms en swaar weer.
  • Wees op die uitkyk vir stormwaters en sterk strome in riviere en afvoerkanale.
  • Swem nooit alleen of duik in modderige water nie.

Beskerm jouself teen die son:

  • Jy kan nie UV-strale sien of voel nie en hulle is sterk selfs op koel of bewolkte dae.
  • Moenie wag vir warm, sonnige weer om jouself te beskerm nie.
  • Bedek met sonskerm, ’n hoed en sonveilige klere.

In 2023 het Lewensredding Suid-Afrika ’n “Watersmart Hub” bekendgestel – prettig en maklik om te gebruik op die e-leerplatform wat ontwerp is om kinders waterveiligheid te leer op ’n manier wat hulle sal verstaan.

Gereed om te begin?

Besoek https://watersmart.dhllifesaving.com/library/home of skandeer die QR-kode om te begin leer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article