“Moenie skiet nie; moenie skiet nie; ons dra niks by ons nie!”
Só het ’n angsbevange ambulansbestuurder by ’n gewapende rower, wat op die nooddiensvoertuig in Strand toegesak het, gepleit.
Die voorval het verlede Donderdag (23 Mei) in die vroeë oggendure in Roberts-straat, Allan Boesak Village, afgespeel terwyl twee nooddienswerkers op ’n mediese noodgeval reageer het.
Die 57-jarige slagoffer wat ten tyde van die voorval agter die stuurwiel was, vertel hy en ’n kollega, wat agter in die ambulans was, is omstreeks 04:30 deur twee aanvallers verras. “Ons was in die straat waar ons moes wees, maar het die huisnommer gesoek. Skielik het ’n man van die passasierskant af die ambulans genader en in Afrikaans gevra of ons hulp nodig het. Nog een, met sy gesig bedek en ’n keppie op, het aan die bestuurder se kant verskyn en ’n vuurwapen uitgepluk. Hy het aan my gesê ‘as jy ry, gaan ek skiet; gee my jou goed’,” herroep die paramedikus.
Volgens die slagoffer het hy herhaaldelik by die gewapende aanvaller gepleit om nie op hulle los te brand nie en verduidelik dat hulle geen besittings by hulle dra nie. Die verdagtes het ’n swart skootrekenaarsak wat op die passasiersitplek gelê het, deur die oop venster gegryp. Die ambulansbestuurder, wat twee jaar gelede ook die slagoffer van ’n gewapende rooftog was, het die kans gewaag om van hul aanvallers te ontsnap en weggejaag. Hy is reguit na die Strand-polisiekantoor om die saak aan te meld.
Die Strand-polisie het bevestig ’n klagte van gewapende roof word ondersoek.
Hoewel die verdagtes met onder meer slegs ’n leesbril, ’n klein Bybeltjie, ’n kaartboek en werksdokumente gevlug het, meen die paramedikus die voorval was steeds traumaties en het hom met ’n hol kol op die maag en bewerig gelaat.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand veroordeel die sinnelose rooftog wat plaasgevind het terwyl twee van sy noodpersoneel aan diens was en op ’n mediese voorval reageer het. “Geen beserings is aangemeld nie, hoewel ons personeel verstaanbaar geruk is deur hierdie beproewing,” dui die departement aan.
“Alle personeel het toegang tot psigososiale ondersteuning deur opgeleide beraders as deel van die Werknemergesondheid- en Welstandprogram. Dit behels post-traumaberading en ontlonting op beide groep- en een-tot-een-basis. Hierdie intervensies kan deur die individu of deur bestuurders geaktiveer word om te verseker dat personeel doeltreffend ondersteun word nadat hulle so ’n traumatiese gebeurtenis soos hierdie beleef het. Die versekering van die veiligheid van ons spanne is uiters belangrik. Terwyl noodpersoneel gebiede betree wat ’n hoë risiko kan inhou, gaan ons voort om alle personeel aan te moedig om nougeset by die bestaande veiligheidsprotokol te hou, wat die besluit vir personeel insluit om hulself fisiek uit onveilige situasies te verwyder.”
Volgens die departement is die beveiliging van nooddienspersoneel ’n gesamentlike verantwoordelikheid van die samelewing. “Terwyl ons Werknemerwelstandprogram ’n veiligheids- en sekuriteitsraamwerk het om potensiële bedreigings teen te staan – insluitend maatreëls soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens-begeleidingsprotokol in hoërisikogebiede – kan ons dit nie doen sonder die betrokkenheid van die gemeenskap wat voordeel trek uit noodsorg nie. Wanneer inwoners ons aktief bystaan om veiligheid in hul onderskeie gemeenskappe te verbeter, kan ons openbare gesondheidspligte doeltreffend en veilig uitvoer, sonder vrees of inmenging.”



