Nog twee brande het in die Helderberg uitgebreek en verwoesting gesaai.
Die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste is gekontak nadat ’n brand verlede Donderdag (27 Januarie) by Strandfoam se fabriek uitgebreek het en nog ’n voorval Sondag (30 Januarie) vier Firgrove-inwoners haweloos gelaat het.
Hierdie voorvalle volg nadat DistriksPos verlede week berig het van verskeie brande, onder meer een wat Busamed Paardevlei-privaathospitaal se deure weens skade toegedwing het, en ’n ander waarin informele strukture in Lwandle tot op die grond afgebrand het, asook ’n veldbrand in die Gants-sentrum, wat sakeondernemings bedreig het (“Firecrews battle sporadic blazes,” 27 Januarie).
Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder vir die Stad se brandweer-en-reddingsdienste, het brandbestryders verlede Donderdag om 17:19 reageer op die brand wat op die perseel van die plaaslike vervaardiger van poli-uretaan-sponsprodukte vir onder meer matrasse ontstaan het. Brandweerspanne van Strand, Sir Lowry’s Pass, Belhar, Somerset-Wes, Macassar en Kraaifontein is met altesaam agt brandweerwaens en 28 brandbestryders na die toneel net langs Broadlands-pad ontbied.
“ ’n Stoorkamer wat bale spons huisves, is erg beskadig en ’n gedeelte van die muur moes afgebreek word om die hitte te laat ontsnap. Brandbestryders het intense hitte in die gesig gestaar terwyl hulle probeer het om die brand in bedwang te bring,” het Carelse gesê. “Die brand is om 20:18 geblus en geen beserings is aangemeld nie.”
Die voorval is die tweede waaronder die Strand-fabriek onlangs gebuk gegaan het. ’n Gedeelte van ’n gebou wat vir berging gebruik is, is ook in ’n brand, wat in September 2020 by Strandfoam uitgebreek het, vernietig (“Blaze partially guts storage facility,” DistriksPos, 1 October 2020). Willem van der Westhuizen, Strandfoam se uitvoerende hoof, het die voorval ná werk verlede Donderdagmiddag bevestig.
“Die brand het net ná 17:00 in ’n stoorgebou in die verste, agterste hoek van ons fabriek uitgebreek. ’n Werknemer was op pad huis toe, toe hy die rook sien en het die brandweer ontbied en ons brandweerspan by die gebou saamgestel,” het van der Westhuizen gesê.
“Die brandweer was om 17:20 op die perseel en het dadelik begin om die brand te blus ten spyte daarvan dat dit belemmer is deur naburige gemeenskapslede wat hulle met klippe bestook het. Teen 18:45 was die brand in bedwang gebring en die brandweer het tot 20:17 op bystand gebly voordat hulle vertrek het.”
Volgens Van der Westhuizen is ’n gedeelte van die stoor met al sy inhoud heeltemal in puin gelê, maar gelukkig is geen beserings aangemeld nie. “Ons geboue is toegerus met brandmure wat die skade tot net ’n klein gedeelte van een gebou beperk het. ’n Interne ondersoek na die oorsaak van die brand duur voort. Ons brandprosedure en toerusting word goed onderhou en is op datum.”
Hy het verder sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die toegewyde werknemers wat ná werkure gebly het om te help, asook elke brandbestryder van die Stad se brandweerdienste vir hul professionele dienslewering.
Brandbestryders is ook ontbied nadat ’n informele struktuur in Firgrove Sondag om 15:51 vlamgevat het. Carelse het gesê brandweermanne van Macassar, Strand en Somerset-Wes het op die toneel in Vierdestraat reageer.
“Een informele struktuur is heeltemal vernietig en ’n formele woning is gedeeltelik deur die brand beskadig met vier mense wat van hul huise ontneem is – skade aan die woning sluit die dak se kantpanele, muur, twee deure en drie vensters in. Geen beserings is aangemeld nie en die brand is om 16:53 geblus,” het Carelse gesê.



