’n Groep misdadigers wat sigarette steel, het onlangs weer op ’n winkel in Strand toegeslaan.
Hoewel die polisie nie kan vasstel of dit presies dieselfde misdadigers is nie, is die modus operandi van die geval asook vorige ander voorvalle presies dieselfde.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig drie onbekende manlike verdagtes het Altena Superette in Die Bos-woonbuurt Vrydagaand (28 Julie) teen omstreeks 18:45 binnegeloop en twee vuurwapens uitgehaal.
“Die verdagtes het hul eie sportsak saamgebring en 16 kartonne sigarette daarin gepak,” sê Beukes.
Die nuutste geval stem baie ooreen met dié by ’n sakeonderneming in Brewerystraat, Rusthof, wat twee keer in Junie beroof is. Beukes het die rooftogte destyds bevestig en gesê die voorvalle het Maandag 12 en Sondag 18 Junie by die Palm Supply Shop plaasgevind.
In die eerste voorval het vyf mans ingestap, twee vuurwapens uitgehaal, die onderneming se eienaar en werkers gedreig en altesaam R20 000 sowel as R30 000 se sigarette gebuit.
Ses dae later is weer R20 000 en R30 000 se sigarette gesteel (“Bisarre rooftogte by onderneming in die Strand,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 21 Junie).
In die nuutste geval het die verdagtes ook ’n toestel, wat kringtelevisie-kameras se beeld opgeneem het, asook al die geld in die kasregister – sowat R8 000 – gesteel.
“Terwyl dit alles gebeur het, het ’n veiligheidsbeampte op ’n paniek-knoppie van die winkel gereageer. Toe die beampte daar aankom, het hy ’n verdagte met ’n sportsak en die CCTV-toestel gesien.
“Die verdagte het alles op die grond gegooi en twee skote op die veiligheidsbeampte geskiet.”
Die beampte het die hasepad gekies, oorkant die straat gaan skuiling soek en een skoot terug afgevuur.
Daarna het die rowers nog twee skote op die veiligheidsbeampte afgevuur voordat hulle van die toneel af gevlug het.
Gelukkig is niemand in die voorval beseer nie.
AO Beukes het bevestig ’n klagte van ’n sakeroof asook een van poging tot moord word ondersoek en het ook genoem die rowers het in hul haas om te weg te kom die CCTV-toestel agtergelaat.
Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.



