Die toneel in Liberty straat waar die man geskiet is.

Yaseen Gaffar

‘n Man is vroeër vanoggend (Vrydag 15 Julie) in ‘n skietvoorval in Libertystraat, Rusthof, gewond.

Die slagoffer se identitet en ouderdom is nog nie bekend nie. 

Volgens Somaya Delouw wat twee huise weg van die toneel woon, het sy na buite gehardloop toe die slagoffer voor haar huis inmekaar gesak het.  “Ek het net een skoot gehoor en toe kom hy hier aan. Niemand weet eintlik wat gebeur het nie,” het Delouw gesê. “Ek het hom te hulp gesnel.”

‘n Woordvoerder van die Strand-polisie het die skietvoorval bevestig, maar kon nie enige verdere inligting oor die slagoffer of presies wat gebeur het verskaf nie. Die slagoffer is per ambulaans na ‘n hospitaal vir verdere behandeling geneem. 

Vanoggend se insident is een van vele in die Strand-gemeenskappe van Rusthof, Broadlandspark, Gustrouw en Sercorpark sedert Meimaand. Dit volg presies 58 dae ná die 18-jarige Angelo Matroos Woensdag 18 Mei in Broadlandspark doodgeskiet is (“Twee moorde in twee ure ruk Strand-gemeenskap,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 19 Mei).

Op dieselfde dag is die 33-jarige Abdullah Daggia vermoedelik vir sy selfoon op die hoek van Eerste- en Visserstraat doodgesteek.  Die belowende rugbyspeler Brancolin Fritz (19) is Saterdag 18 Junie by ‘n partytjie in Sewendestraat, Rusthof, doodgesteek (“‘Ek steier oor my seun se dood’,” Distrikspos & Helderberg Gazette 22 Junie).

Slegs twee dae na die moord, is een van Fritz se spanmaats van die St. George’s-rugbyklub glo in Sercorpark ‘n skietvoorval geteiken toe per voet van rugbyoefening op pad huis toe is. Die 22-jarige is nie in die insident beseer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article