’n Moorddossier is die afgelope naweek in Macassar geopen nadat die lyk van ’n 29-jarige man in die gebied ontdek is.
Adjudant-offisier Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, het bevestig polisiebeamptes is Sondag (30 Julie) teen omstreeks 09:20 in kennis gestel van die lyk van ’n man, wat naby Macassar Sekondêre Skool in Charlie Brownstraat gevind is.
Hoewel Distrikspos & Helderberg Gazette weet wie die slagoffer is, is daar besluit om nie sy identiteit te deel nie omdat nie al sy familielede waarskynlik al in kennis gestel is nie.
“Die slagoffer het verskeie wonde gehad, maar in hierdie stadium is die speurders nog besig met die ondersoek,” het Adendolf gesê.
Sy het ook by navraag bevestig die vonds is nié deel van ’n ander soortgelyke ondersoek waar in die tydperk tussen Saterdag 27 Mei en 3 Junie vierlyke in Macassar ontdek is nie. Drie uit die vier lyke wat, blykbaar elders vermoor en toe in Macassar ontdek is, is amptelik uitgeken (“Lyke in Macassar aangetref,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 7 Junie).
Adendolf het die publiek gevra indien iemand enige inligting oor die moord het, om kaptein Andries Geldenhuys, die speurhoof by die Macassar-polisie, by 021 857 7100 te bel.
Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

