’n Spanmaat van die rugbyspeler wat voorverlede Saterdag (18 Junie) in Strand doodgesteek is, het na bewering amper sy eie lewe verloor nadat verskeie skote glo verlede Maandag (20 Junie) op hom gevuur is.

Die identiteit van die spanmaat van die vermoorde Brancoulin Fritz word deur die koerant beskerm uit vrees vir viktimisering nadat hy amper in die beweerde voorval, wat in Sercorpark afgespeel het, doodgeskiet is.

Die 20-jarige en Fritz was goeie vriende en het saam hul passie vir die kontaksport as lede van die o.20-span van die St. George’s-rugbyklub uitgeleef.

Geen klagte is ná die skietvoorval by die Strand-polisiekantoor aangemeld nie.

Die slagoffer, wat wel ongedeerd is ná die beweerde voorval, steier steeds onder skok.

“My kind het verby drie jongmans geloop en toe hy omkyk vra hulle hom, ‘Wat kyk jy?’ en nog voordat hy iets kon sê, het hulle op hom losgebrand,” sê sy bekommerde ma.

Volgens die ouer was haar seun op pad huis toe ná ’n rugbyoefening toe hy Maandagaand omstreeks 20:30 in Sercor-rylaan geteiken is.

Die voorval het op dieselfde dag plaasgevind as wat ’n 17-jarige verdagte van Strand die eerste keer in verband met die moord op Fritz in die Strand-landdroshof verskyn het.

Die 19-jarige Fritz is Saterdagaand 18 Junie by ’n partytjie in die bors gewond en het met sy aankoms by die hospitaal beswyk (“ ‘Ek steier oor my seun se dood’,” DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 22 Junie).

Vier verdagtes is aanvanklik in verband met die mesmoord in hegtenis geneem, maar slegs een is van moord aangekla.

Die tiener, wie se identiteit aan die koerant bekend is, het glo ’n donker verlede en het volgens ’n vertroulike informant ander sake teen hom.

Die verdagte het gedurende verlede week op drie aanklagte in die hof verskyn, waar besluit is om hom na ’n plek van veilige bewaring te stuur totdat die hofsaak afgehandel is.

Volgens ’n bron by die Strand-landdroshof sal die verdagte nie borgtog kry nie aangesien hy by die hof bekend is vir geweld en die vorige misdade waarmee hy verbind word.

Willem Swartz, ’n afrigter van die St. George’s-rugbyklub se onder-20-span, is van mening dat die twee voorvalle glad nie met mekaar verbind kan word nie.

“Ten tyde van die voorval was ek by Fritz se familie om my medelye te gaan betoon.

“Dis toe dat iemand my skakel en laat weet dat ’n ander speler van ons amper doodgeskiet is.

“Ek dink egter nie die twee voorvalle kan op enige manier aan mekaar gekoppel word nie,” sê Swartz.

Hy bevestig wel dat die twee voorvalle ’n negatiewe invloed op die spelers het, want dit maak hulle bekommerd en het ’n uitwerking op hul rugby en fokus.

Fritz se begrafnisdiens word Saterdag (2 Julie) om 10:00 by die Ou Apostoliese kerk in Twaalfdestraat, Strand, gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article