Clinton Batties (22) van Broadlandspark is dood nadat hy in die blad geskiet is. Foto:

Credit: SYSTEM

’n Twee-en-twintig-jarige man van Broadlandspark se lewe is verlede Sondag (28 Augustus) ná nog ’n skietvoorval in die berugte gemeenskap tragies kortgeknip.

Die slagoffer bekend as Clinton Batties is op ’n houtbankie in Petuniarylaan in sy ma se arms dood.

Batties se moeder, Gwendoline het by haar geliefde seun gesit nadat hy in die voorval gewond is, en nes sy hom in die wêreld sien inkom het, was sy ook daar om van hom afskeid te neem.

Die Strand-polisie het bevestig dat twee minderjarige verdagtes, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, kort ná die tragedie op aanklagte van moord in hegtenis geneem is.

Volgens Strand-polisiewoordvoerder Nico Beukes, het Batties aan ’n skietwond agter in die blad beswyk.

Die voorval het omstreeks 06:50 plaasgevind.

“Ek kon altyd so kwaad raak vir Clinton, want hy het altyd gegee. Hy het soms hier ingekom en kruideniersware uit ons kaste gehaal om vir sy vriende te gee. Hy het altyd ’n klomp vriende om hom gehad. Ek het hom altyd geskel as hy goeters vir sy vriende kom haal, maar hy was so ’n soort mens,” vertel die bedroefde ouer.

Sy het saam met hom sy laaste oomblikke deurgebring.

“Ek was by hom nadat hy geskiet is. Ek het hom vasgehou. Hy het begin flou word; sy woorde wou nie uitkom nie. Hy het geluister as ek gepraat het. Ek het hom tot die einde vasgehou.”

Batties word Saterdag (10 September) uit die Bethesda Evangeliese kerk in Storkstraat begrawe. Die diens begin 09:00.

Volgens die gemeente se pastoor Colin van Wyk word die Broadlandspark-gemeenskap gedurig aan vrees en trauma blootgestel.

“Die geweldsmisdade, wat moord en verkragting insluit, word nou as alledaags in hierdie gemeenskap aanvaar. As pastore hou ons elke week begrafnisse vir vermoorde familielede – net die voorste ry in die kerk verander. Die trauma kom nou al ’n geruime tyd aan. Die mense het nie meer vertroue in die wetstoepassers om hulle te beskerm nie. Hul pleidooie word ook deur niemand erken nie.”

Hy sê ook mense se menswaardigheid word geskend. “Hulle glo nie hul omstandighede sal ooit verander nie. Hier is ’n tydbom wat enige tyd kan ontplof. Die gevolge kan katastrofies wees, want jong seuns en meisies raak groot met trauma wat nie hanteer kan word nie.”

Pastoor Carlo Ingham van Arise Outreach Ministries glo ook die misdaad het ’n groot invloed op die gemeenskappe. “Ons gemeenskappe is besig om te bloei – nie net fisiek deur die verliese wat hulle deurmaak nie, maar ook emosioneel. Dis asof ons gemeenskap gyselaar gehou word en in ’n wurggreep is wat ons gemeenskap tap. Ons gemeenskap verval by die dag, want misdaad is so verrykend en die gevolge is so groot. Mense se moraal is gebreek. Ons gemeenskap verloor sy veggees. Ons aanvaar net al hierdie negatiewe dinge. Dit veroorsaak dat mense hoop verloor,” voeg Ingham by.

Die twee verdagtes het Dinsdag (6 September) in die Strand-landdroshof vir hul borgtog verhoor verskyn. Die hofuitslag was teen druktyd steeds onbekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article