Dié skedel is Saterdag langs die treinspoor in Sir Lowry’s Pass gevind.


’n Vermeende menslike skedel is Saterdag (23 April) naby die treinspoor in Sir Lowry’s Pass gevind.

Die gruvonds is een van vier in onlangse weke wat nusshooftrekke gehaal het. DistriksPos het verlede week oor ’n dooie fetus wat in ’n kanaal in Sir Lowry’s Pass ontdek is, berig (“Fetus gevind,” 21 April). Hierdie vonds is voorafgegaan deur ’n verkoolde lyk wat buite ’n uitgebrande voertuig op die R44 gevind is (“Horrific discovery, 14 April), asook vermeende mensbeendere wat deur strandgangers in Gordonsbaai ontdek is (“Beendere gevind,” 7 April)

Sir Lowry’s Pass-inwoner Louis McIvis het vandeesweek bevestig dat iemand Saterdag ’n kopbeen naby die treinspoor in die omgewing opgetel het.

“Die kopbeen is in ’n houer gekry en die inwoner wat dit opgetel het, het die polisie in kennis gestel,” vertel McIvis.

Sersant Suzan Jantjies, woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het die voorval bevestig en gesê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen nadat die menslike skedel naby aan ’n vark-hut gevind is.

“Die skedel is omstreeks 10:00 in Van Aarde-straat opgetel. Volgens ’n ooggetuie is die skedel gevind terwyl sy besig was om naby ’n groen vraghouer (container) skoon te maak,” sê Jantjies.

Magriet Britz, voorsitter van die Sir Lowry’s Pass-buurtwag, het sy nie self die skedel gesien nie, maar wel ’n foto daarvan. Volgens haar is die skedel skoon en sonder enige weefsel, wat voorstel dat dit al ’n geruime tyd daar gelê.

Die vermeende menslike skedel is na ’n staatslykshuis geneem vir verdere ondersoek.

V Die polisie vra mense met inligting om die ondersoekbeampte adjudant-offisier Valton Lategan by 021 850 1344 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article