’n Minderjarige verdagte is aangekeer in verband met ’n vermeende bendeverwante skietvoorval waarin ’n slagoffer ernstig gewond is.
Die voorval het Saterdag (4 November) in Broadlandspark plaasgevind en ’n 20-jarige man is met ’n skietwond aan die boud in die hospitaal opgeneem.
’n Strand-polisiewoordvoerder het bevestig dat lede omstreeks 06:00 na die toneel in Bosduifstraat ontbied is.
Met hul aankoms by ’n woonadres het hulle die gewonde slagoffer gevind. “Volgens die slagoffer het hy na die winkel gestap toe hy deur twee manlike verdagtes wat aan hom bekend is, genader is. Daar is op hom losgebrand en hy is in die linkerboud raakgeskiet. Die slagoffer is later per ambulans na die hospitaal vervoer,” het ’n polisiewoordvoerder gesê.
Die polisie het ’n saak van poging tot moord geopen en met verdere ondersoek ’n verdagte in verband met die misdaad in hegtenis geneem.
Die verdagte, ’n 16-jarige lid van die Junior Cisko Yakkies-bende (JCY’s), het Maandag (6 November) op ’n aanklagte van poging tot moord in die Strand-landdroshof verskyn.
Die tiener-verdagte bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning, wat teen die koerant se druktyd Dinsdagoggend (7 November) nog nie bekend was nie.


