Die Altena-inwoner Vesta de Wet blaas vandag 106 kersies op haar verjaardagkoek uit! Sy vier die mylpaal met geliefdes, insluitend haar 75-jarige dogter, Elizabeth Burmeister, wat haar ma se lang lewe aan haar positiewe gesindheid toeskryf.Foto: Jamey Gordon


Die Strandse bejaarde Vesta de Wet vier vandag (Woensdag 24 Julie) haar 106de verjaardag! Net ingeval jy dalk wonder of jy aan ’n simptoom ly wat met ouderdom gepaardgaan – nee, daar is niks fout met jou sig nie; jy het reg gelees.

De Wet, wat al langer as 20 jaar ’n gelukkige inwoner van die Altena-tehuis is, het ’n nuwe mylpaal gehaal en beplan om die goue ouderdom in die geselskap van geliefdes saam aan tafel te vier.

Dié steeds hupse, lewenslustige en byna superhonderdjarige meen die resep vir ’n lang lewe is om die Here deel daarvan te hê, en hierby al die liefde van die medemens. “Ek het nog nooit ’n mens teëgekom wat my sleg behandel het nie,” voer sy aan.

De Wet straal ’n gekunsteldheid uit wat die aandag trek en respek afdwing, en koester duidelik haar vrouwees met sprankelende grasie en styl. Boonop beeld sy ’n bewonderenswaardige positiewe ingesteldheid uit, wat ’n mens kan laat glo dat ’n verlengde lewensduur en groter weerstand teen siektes wel die voordeel van sulke optimisme kan wees.

De Wet is op 24 Julie 1918 op ’n plaas in Herold gebore. Dié natuurlike versorger koester soete herinneringe van haar beroep as ’n verpleegster by die Groote Schuur-hospitaal en die kanse wat sy gewaag het op liefde wat twee keer oor haar lewenspad gekom het.

Dié weduwee, wat albei haar huweliksmaats oorleef het, spog met altesaam 75 familielede.

Om te verhoed dat sy in ’n groef verval, staan sy tyd op ’n tipiese dag af vir ’n bietjie genot vir ’n goeie doel – sy klik haar breinaalde en versprei ’n bietjie warmte in die vorm van liefdevol-gebreide komberse wat aan mede-bejaardes geskenk word.

Volgens De Wet se dogter, die 75-jarige Elizabeth Burmeister, kan haar ma se lang lewe toegeskryf word aan haar geweldige positiwiteit en die vermoë om geen verkeerd in enigiets te sien nie. “Dít, en dat sy haar lewe lank in die see swem,” voeg sy by.

Burmeister spog verder dat haar ma nog in die feestyd na Namibië gereis het om by hulle aan te sluit vir die vakansie en selfs met haar 100ste verjaardag die duine saam hulle uitgery het.

De Wet meen haar verjaardagwens vanjaar is liefde en vrede op die aarde en sy sien verder daarna uit om die seëning van elke dag voluit te leef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article