Die Macassar-polisie het bevestig die onlangse vonds is nié deel van die ondersoek ná die vorige vier lyke, wat tussen Saterdag 27 Mei en Saterdag 3 Junie ontdek is, nie.


Die Macassar-polisie ondersoek die omstandighede rakende drie lyke wat in die omgewing gevind is.

Die eerste lyk is verlede Maandag (28 Augustus) ontdek nadat dit glo op die strand by Monwabisi uitgespoel het. Volgens ’n woordvoerder van die Macassar-polisie is die man vermoedelik doodgesteek en sy lyk in die see gestort.

Vier dae daarna, op lentedag (Vrydag 1 September), het nog ’n lyk van ’n man op dieselfde strand uitgespoel, maar dié keer was die lyk heeltemal naak sonder enige sigbare wonde.

Die mees onlangse lyk, wat Sondag (3 September) teen omstreeks 05:00 in Look-straat in Macassar ontdek is, is dié van ’n 22-jarige man.

Volgens die polisiewoordvoerder het dié man vermoedelik in ’n stryery met ’n verdagte betrokke geraak voordat hy in die bors gesteek is. Hy het glo kort daarna in die pad dood neergeslaan.

Die Macassar-polisie het ’n verdagte spoedig ná die moord aangekeer en hy verskyn vandag (Woensdag 6 September) in die Somerset-Wes-landdroshof.

Dié vondste volg sowat drie maande nadat vier lyke in Macassar tussen Saterdag 27 Mei en Saterdag 3 Junie ontdek is (“Lyke in Macassar aangetref,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 7 Junie).

Drie van die vier mense, wat blykbaar elders vermoor en wie se lyke toe in Macassar ontdek is, is amptelik uitgeken.

Die polisiewoordvoerder het bevestig die onlangse vonds is nié deel van die ondersoek na die vorige vier lyke nie.

“Die twee lyke wat op Monwabisi-strand uitgespoel het, is heel moontlik dié van mense wat op ’n ander plek vermoor en toe in die see gestort is,” het die woordvoerder gesê.V Die polisie vra die gemeen­skap om die kantoor by 021 857 7100 te skakel indien hulle enige inligting het oor die twee lyke wat op Monwabisi-strand uitgespoel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article