’n Messteekvoorval het verlede Woensdag (16 Maart) by Sir Lowry Pass Primêr plaasgevind waar ’n leerder gewond is.
Volgens sersant Suzan Jantjies, woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het ’n bakleiery tussen twee 13-jarige leerders uitgebreek. “Die een het die ander glo met ’n klein messie gesteek. Die beseerde leerder is ná die voorval by Sir Lowry Pass-kliniek behandel.”
“Lede van die Somerset-Wes-polisie, die metropolisie se K9-honde-eenheid sowel as amptenare van die departement van korrektiewe dienste het Vrydag (18 Maart) die skool met optrede geteiken. Die doel was om leerders bewus te maak van die gevare van dwelms, alkohol en gevaarlike wapens. Die skool se perseel is deur die honde-eenheid deursoek,” sê Jantjies.
Volgens haar is fokus daarop geplaas om leerders aan te moedig om nie deel te neem aan bendeverwante-aktiwiteite nie.
“Leerders kon ná die soektog ’n vertoning deur die K9-honde-eenheid geniet.”
Kaptein Charles Riffel, wat in beheer van die optrede was, sê dit is belangrik vir rolspelers om tydens sulke optrede aan boord te kom.
Riffel het die skoolhoof vir sy ondersteuning bedank.
Geen klag is ná die messteek-voorval by die polisie aangemeld nie. . Distrikspos het die skoolhoof van Sir Lowry Pass Primêr gekontak vir kommentaar oor die voorval, maar teen druktyd geen antwoord of kommentaar van hom af ontvang nie.



