Chad Mockey wil ander wys dat harde werk ’n verskil maak en dat dit nie saak maak waar ’nmens vandaan kom nie, maar waarheen jy op pad is.


’n Strand-boorling wat tans in Stellenbosch woon en werk, het nooit toegelaat dat enigiets in sy pad staan nie – en vandag het hy ’n BA-graad en ’n nagraadse sertifikaat in onderwys agter sy naam.

Chad Mockey (27) het sy BA-graad in geografie en omgewingsopvoedkunde in 2020 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en verlede jaar het hy ’n PGCE- nagraadse sertifikaat in onderwys verwerf.

“Destyds toe ek begin studeer het, moes ek eers by die universiteitslewe aanpas – dit was baie anders as skool,” vertel Chad.

Hy het aan Strand Sekondêr matrikuleer.

Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie. Wat saak maak, is die besluite wat jy vir jou toekoms neem.
Chad het nadat hy sy BA-graad verwerf het, ’n oorbruggingsjaar geneem waar hy eers in ’n klerewinkel gewerk het.

“Ek het gedurende die jaar nog nie ’n antwoord gekry oor wat ek eendag wil doen nie. Ek het toe besluit om ’n nagraadse sertifikaat in onderwys te verkry,” sê hy.

Hy het sy sertifikaat in 2021 ontvang en dadelik ’n instaan-pos by Oklahomastraat Primêre Skool in Macassar. “Dit was een van daardie Covid-19-poste waar ek ingestaan het vir ’n onderwyser wat op die lys vir mense met onderliggende siektes was en eers weer kon begin skoolhou nadat Covid tot vlak drie gedaal het. Ek kon dus net vir daardie tydperk by die skool werk.”

Daarna het hy vir die res van 2021 by Hoërskool Kylemore gewerk, waar hy onderskeidelik Engels en toerisme onderrig het. Tans is hy ’n voltydse onderwyser by Stellenzicht Sekondêre Skool.

Chad sê dit het opoffering en harde werk vereis om hom te kry waar hy tans is, maar hy is nie skaam om te noem dat hy nog baie drome het wat hy wil behaal nie.

“Ek is deur ’n enkelouer grootgemaak. My ma het nie altyd ekstra geld gehad nie. Ek moes in graad 11 en 12 werk om ’n geldjie te maak om vir myself die klere te koop wat ek graag wou gehad het.”

Op universiteit het Chad ook altyd die ekstra myl geloop. Hy het soms die kostuum van Proffie, Maties se gelukbringer, aangetrek en die ondersteuners by Maties se rugbywedstryde vermaak.

“Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie. Wat saak maak, is die besluite wat jy vir jou toekoms neem,” sê hy.

Chad se toekomsplanne is om eendag sy eie vaardigheidskool vir kreatiewe leerders saam met van sy vriende te open.“Ek wil eendag ook ’n skoolhoof wees en ek my eie werkswinkel open waar ek en my familielede kan saamwerk. Ek het, toe ek nog klein was, saam my pa aan karre leer werk. Ek het eintlik nog ’n klomp drome wat ek eendag wil behaal in my kop,” sluit hy af. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article