Die Strand-boorling Moegammat “Nawawi” Rhoda dien al vir langer as vier dekades as passievolle haarkapper en plaaslike leermeester in die haarsny-bedryf. Foto’s: Jamey Gordon


“Is jy die dame van die koerant? Jy is op jou pos, nè,” groet een van Strand se erkende haarkappers my met ’n besoek aan sy werksplek verlede Woensdag (3 Augustus).

Ek wou nog myself met die intrapslag by Rhoda’s Hairdressing Salon in Brewery-pad voorstel, maar die geleentheid het vinnig verbygegaan toe die welbekende eienaar wegspring met soete herinneringe aan die tyd toe hy op die kassie verskyn en met talle kykers truuks oor vis of bak uit Nawawi’s Kitchen gedeel het. “It was fresh out the sea and into the pên, en, nes Kapenaars dit geniet, met blatjang voorgesit,” herinner hy voordat ek hom vinnig in die rede moet val om te keer dat ek nie belangrike besonderhede vir my onderhoud oor die beroemde Moegammat “Nawawi” Rhoda, wat al dekades lank as haarkapper dien, mis nie.

Asof die neon-groen baadjie nie aanduiding genoeg is van sy lewendige en kleurvolle persoonlikheid nie, het sy bewonderenswaardige vermoë om ’n geselskap natuurlik oor te neem en amper manalleen, soos ’n monoloog, onophoudelik aanhou gesels, dit wel ontbloot.

Hy is gewis die karakter wat ander vertel hy is.

Met ’n enkele vraag oor presies hoe lank hy nou al sy geliefde gemeenskap dien, spring hy weer eens weg: “Ek sny al van 1981 af professioneel ander se hare. Ek is nie net ’n barber nie, nee! I wás a barber; after 25 years I earned my honours, by 30 years my masters and with 40 years my doctorate! So ek is nie eintlik net ’n barber nie, ek is die leermeester en almal wat as haarkapper uitgestyg het, kom uit my hand uit,” meen die entrepreneur wat op Jeugdag (16 Junie) 65 geword het.

Hoewel hy al verby aftreeouderdom is, beplan hy nie om in die nabye toekoms sy haarknipper en skêr neer te sit nie. “Ek gaan my genade-jare in my pos deursien,” verduidelik dié haarkapper, wie se nalatenskap deur sy seun, wat ook in die bedryf is, sal voortduur.

Nawawi vertel met trots verder die vernuf om hare te sny, loop in die familie. Sy pa, Moegammat Ali Rhoda, was een van agt broers en ook ’n haarkapper en het ’n suksesvolle onderneming (destyds bekend as Ali Barber wat op ’n straathoek in Marketstraat naby Shoprite geleë was) bedryf. Nawawi spog nie met groot kwalifikasies nie – net kosbare grootwordjare in sy pa se haarkappery, wat sy vaardigheid in ’n passievolle deel van sy wese geslyp het.

Ek val hom in ’n stadium in die rede met die vraag oor hoe hy ’n ongelukkige klant hanteer, waarop hy antwoord: “Pleasing every customer is part of the job. It is your art.”

Een van sy gereelde klante, wat hom tydens die koerantonderhoud in Nawawi se stoel bevind het, het ingetjirp: “Wat hom laat uitstaan bo die res, is dat jy hier kan inloop en kan kom sit sonder om te sê wat jy gedoen wil hê. Hy weet presies wat elkeen van sy customers wil hê. Hy gryp net die regte tool en dis dit.”

Nawawi skryf ’n groot deel van sy sukses toe aan sy toerusting. “Kyk hier, anders as die nuwe barbers wat sommer vinnig oral in die omgewing opskiet, het ek vier haarskeermasjientjies. Hulle bly ingeplug en gereed vir onmiddellike gebruik,” verduidelik dié bobaas-haarkapper terwyl hy ’n sigaret in die hoek van sy mond balanseer en sy hande rof aan die werk is met ’n skêr in die een en kammetjie in die ander om sy klant se haarstyl af te rond.

Hoewel Nawawi reken ander kan slegs die beste van hom as haarkapper verwag, meen die klant egter dis ’n onderskatting.

“Laat ek dit so stel, Juffrou – as jy hiervandaan weggaan, dan trek jy jou suit met ’n tie aan en jy gaan reguit kansel toe om trou te beloof. Beter kan jy dit nie stel nie,” verduidelik hy.

’n Laggende Nawawi het grappenderwys reageer: “Ek sny nie net hare bloot om hare te sny nie; ek sny aan jou gesig. Ek is die enigste ambagsman wat nie ’n level of ’n chalk line gebruik nie, just my hands!”

Nawawi se trots is dat niemand nog fout gevind het met sy haarsny-dienste nie, maar hy meen wel hy is altyd oop vir kritiek en sal ’n probleem moeiteloos uitsorteer as een wel opduik.

Hy vertel tussendeur dat hy altyd met gebed in die moskee afkyk om te verhoed dat hy moontlik ’n ander haarkapper se blapsies op die man se kop voor hom raaksien. “Dit sal heeltemal my fokus oorheers,” voeg hy skertsend by.

Volgens die passievolle haarkapper kan hy enige haarstyl baasraak en hoewel die modes baie oor die jare verander het, koester hy die dae toe hy almal se kapsels soos dié van die beroemde sanger Rick Astley omgetower het.

Volgens die klant is ’n uitstappie na Nawawi meer as net die bederf om jou hare deur die “meester” gesny te laat word – “dis ’n ervaring”.

“Nawawi gee betekenis aan medemenslikheid, wat baie van iemand sê,” vertel hy sonder om verder uit te brei. “Nog meer – hy is ’n karakter wat die Steven Spielbergs van die movie business vir enige rol kan oorweeg. Hier praat ons van alles – politiek, oor die algemeen, man, sommer enigiets.”

Nog ’n kliënt wat sy beurt in die stoel afgewag het, voeg by: “Dié man kan lang geselsies hou. As jy hom raakloop, maak jou klaar om van allerhande goed te praat; land en sand.”

“Ek kan praat van alles, it’s part of the job,” beaam Nawawi.

Die een-in-’n-leeftyd-haarkapper, wat dikwels nie eens sy kliënte hul beursies vir hul vars kapsels laat uithaal nie, spog voorts dat hy oor die jare ’n breë kennis opgebou het, en dít deel hy graag met ander.

“Ek praat jong. Jy kan maar hoe wees, maar as jy uit hierdie barber uitstap, is jy nie meer onplesierig nie,” sê ’n komieklike Nawawi, wat verder sy dankbaarheid vir die seëning van goeie gesondheid uitgespreek het.

Die bobaas-haarkapper meen kliënte wat in sy stoel beland, is verseker van ’n unieke haarstyl wat hul beste eienskappe beklemtoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article