Gian Groen, Neil Sandilands, Abel Kraamsaal en Schalk Joubert klim saam op een verhoog om hul liefde vir Afrikaans en hul eie halfeeu lange reis te eerbiedig.

Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal – vier unieke stemme in die Afrikaanse musieklandskap – klim eersdaags saam op een verhoog om hul liefde vir Afrikaans en hul eie halfeeu lange reis te eerbiedig.

Die Vyftigers is ‘n musikale viering van die lewe, taal, stories en tyd. Dis ‘n produksie wat eerlik, rou en reguit is – vol liriek, lag, melodie en menswees.

Die ontstaan van Die Vyftigers het begin tussen die appelboorde van Grabouw, by Gian Groen se 50ste verjaarsdagpartytjie. Tussen kitare, staalsnare en spontane samesyn, het Sandilands die lig gesien – vier musikale vriende, almal besig om die 50-mylpaal te takseer, in dieselfde jaar wat Afrikaans 100 jaar oud word. Dié kreatiewe toeval kon eenvoudig nie geïgnoreer word nie en met net een oproep na elk, was almal aan boord.

Só is Die Vyftigers gebore – ‘n unieke kruispunt tussen taal en tyd. Elkeen bring sy eie storie, instrument en kleur na die verhoog en tussen dié vier se loopbane is daar meer as 200 jaar se kreatiewe gravitas – elke noot en elke sin deurdrenk met betekenis.

Maar dis nie net ‘n musiekvertoning nie – dis ‘n viering. Aan die hand van liedjies uit elk se repertoire, asook nuwe skeppings, wat spesifiek vir die produksie ontwikkel is, neem die kunstenaars gehore op ‘n reis deur persoonlike stories, taalgeskiedenis en tydlose klanke. Die vertoning is ten volle in Afrikaans – ‘n danksegging aan die taal wat dit alles moontlik maak. Of jy nou ‘n aanhanger van Afrikaanse musiek is, die kunstenaars self, of eenvoudig net op soek is na iets eg, diep en vermaaklik – hierdie vertoning is ‘n moet-sien!

“Wat kry jy as jy vier duidelike persoonlikhede op een verhoog sit, wat elk ‘n instrument bespeel, ‘n ordentlike liriek kan pen en derms het wat brand,” vra Sandilands.

“Sprankel ‘n aweregse Afrikaanse woordeskat, sprinkel ‘n titsel selfnegerende humorsin, ‘n spatsel witblitz, ‘n slurpie Boere Zen en ‘n draggie 50 jaar oue hardehout. Daar het jy dit. Die resep vir ‘n aand se eersteklas-vermaak: Die Vyftigers. Amper soos Trompie en die Boksombende. As ek dan nou Trompie is, en Gian is Rooies, Abel is Dawie, Briers Coetzee (ons klankinginieur wat ook kan cajon speel) is Blikkies, dan is Schalk mos Boesman die brak.”

Die Vyftigers is Sondag 13 Julie om 15:00 by The Drama Factory in Strand te sien. Kaartjies, teen R220 (standaard) en R200 (studente en pensioentrekkers), is aanlyn by www.dramafactory.co.za te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article