Strand United het Saterdag (9 September) by die Abattoir-sportterrein ’n nadruklike oorwinning van 43-21 oor Young Wesley’s RFC in ’n Top-9-promosiewedstryd behaal.
United het dit egter nie alles in sy laaste tuiswedstryd van die seisoen na sy eie sin gehad nie. Dit aangesien die besoekers 10 minute in die wedstryd reeds ’n voorsprong van 7-5 gehad het nadat United ’n onverdoelde drie deur die binnesenter, Zain Essa, gedruk het.
Met ’n sterker pak voorspelers wat die vasgestelde fases oorheers, was dit net ’n kwessie van tyd voordat Essa sy tweede drie gaan druk het. ’n Derde drie, gedruk deur Ameer Oliver, het ’n duideliker beeld gegee van waarheen die wedstryd op pad was, maar die Wesley’s het gevoel hy is stewig in die saal met die rustydtelling 17-14 in die gasheer se guns.
United het egter met die wind in die rug beheer oor die tweede helfte geneem en verdere drieë deur Angelo Adams, Agmat Smith, die kaptein, Lutfi Ruiters, en Moenier Davids het hom vyf ligapunte verseker om die eerste plek in die Top-9-promosieliga te behou.
United, stewig bo-aan die puntelys, pak Sir Lowrians die naweek in die volgende wedstryd voordat hy na Eersterivier vertrek om teen Whistling Wheels te speel. Die top-twee spanne op die puntelys sal outomaties bevorder word, en dié in derde en vierde plek sal in die uitspeelwedstryde speel.
Sir Lowrians het ook sy Top-9-wedstryd met 15-6-teen Manenberg gewen. Die navy-stoomtrein lê tans tweede op die punteleer.
In ’n top-ses-Superliga A- kwarteindstryd tussen Helderberg en Durbell in Charles Morkel-stadion was die uitslag tot aan die einde onseker. Helderberg het met 22-20 net-net die oorwinning gesmaak nadat hy vroeër in die liga met 29-31 kortgekom het. Dié twee spanne het goed teen mekaar opgeweeg en deurkomkans het skraal gelyk. Maar in die 18de minuut het die besoekers hul rekening met ’n drie geopen (0-5) en toe weer in die 21ste minuut en ’n derde keer in die 25ste minuut (0-15). Berge se buitesenter, Quiwen Bauman, het die lyn in die 29ste minuut gebreek en sy sentermaat Quinn Visser vir ’n puik drie weggestuur, wat deur sy ouboet, Michael Visser, verdoel is (7-15). Durbell het sy vierde drie in die 33ste minuut gedruk (rustydtelling 7-20). Quinn het in die 45ste minuut deur ’n gaping gesny vir sy tweede drie en Michael het weer verdoel (14-20).
Berge was skielik op die aanval en konstant binne die besoekers se 22.
Michael het ’n wye aangee na sy regtervleuel, Jodi Koul, gestuur, wat die lyn in die hoekie oorgesteek het. Die doelskop was skeef, maar die telling was 19-20. Bauman het ’n netjiese skepskop in die 54ste minuut deur die pale gestuur vir die voorsprong op die telbord, 22-20. Die laaste kwart van die stryd was senutergend, maar punteloos, dus was Helderberg die wenner.
Hierdie Saterdag (16 September) vind al die halfeindstryde van die kampioenskap in City Park, Athlone, plaas en Helderberg se teenstander is die Universiteit van Kaapstad (Ikeys).
In die ander Superliga A-halfeindstryd meet Villager en Maties kragte.
All Saints se indrukwekkende seisoen het in die Superliga B-kwarteindronde tot ’n einde gekom toe hy deur ’n besoekende Hands and Heart-span op die Helderzicht-sportterrein uitgeknikker is. ’n Drie deur Curtley Williams en drie strafskoppe deur Marco Anderson was nie genoeg nie, aangesien die tuisspan met 19-14 verloor het.
Die Superliga C-halfeindstryd tussen Macassar RFC en Hamediehs RFC sal ook komende Saterdag in City Park gespeel word.
In die poel B-streektoernooi het Gordonsbaai Pioneers Progress RFC op die vlootterrein afgeransel. Pioneers het besit en grondgebied oorheers en altesaam 11 drieë aangeteken. Progress het geen antwoord gehad nie en die wedstryd klaargemaak sonder om punte aan te teken, aangesien Pioneers ’n 71-0-oorwinning behaal het.
Pioneers reis vanaand (Woensdag 13 September) na die Paarl om Windmeul RFC aan te durf, en maak daarna gereed vir die kwarteindronde op sy tuisveld op Saterdag 23 September.



