Die owerhede se ondersoek duur voort nadat ’n middeljarige motorbestuurder in ’n tragiese ongeluk op die N2-snelweg dood is.
Die 47-jarige slagoffer se lewe is kortgeknip nadat ’n skeepsvraghouer van ’n vragmotor afgeval het terwyl dit onder die Kramatweg-brug deurbeweeg en op sy voertuig beland het.
Dit is bevestig dat die vragmotor met sy houer die brug se hoogtebeperking oorskry het. Benewens die Macassar-polisie se ondersoek in ’n strafbare manslag-saak word ’n ondersoek ook deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) van stapel gestuur om vas te stel of die vragmotor-operateur die nodige permitte en klaringe vir die vrag verkry het.
Volgens adjudant-offisier Desiré Adendolf, ’n woordvoerder vir die Macassar-polisie, het die ongeluk omstreeks 07:15 verlede Woensdagoggend (15 Januarie) gebeur.
Die vragmotor het in die rigting van Somerset-Wes gery toe die houer die brug getref het. Die vragmotor het die hoogtebeperking van die brug oorskry en gevolglik sy vrag verloor. Die houer het dus losgebreek en op twee voertuie, insluitend dié van die oorledene, beland. Die houer het op ’n Volkswagen Polo en ’n Kia K2700-bakkie geval, met die slagoffer, Carlo Duiker, wat agter die stuur van die bakkie was.
“Ons kan bevestig dat Duiker, die bestuurder van die Kia, op die toneel dood verklaar is,” het Adendolf gesê.
Die polisie het ’n saak van strafbare manslag geopen en die ondersoek duur voort. Die 36-jarige bestuurder van die vragmotor is nie in hegtenis geneem nie.
Die Stad Kaapstad se verkeersdienste het ook op die voorval reageer. “Een sterfte is bevestig en vyf ander mense is beseer,” het Kevin Jacobs, ’n woordvoerder vir die Stad se verkeersdienste, gesê.
Die N2 is kort ná die voorval by Baden Powell-laan gesluit terwyl verkeersbeamptes die toneel beveilig het. Dit is ure later eers weer vir verkeer heropen.
Byron la Hoe, ’n woordvoerder vir die provinsiale departement van gesondheid en welstand se mediese nooddienste (EMS), het bevestig dat ’n man en ’n vrou met ligte beserings na die Helderberg-hospitaal geneem is, terwyl nog twee insittendes met geringe beserings na dieselfde hospitaal geneem is. ’n Manlike insittende is met ernstige beserings na die Tygerberg-hospitaal geneem.
“Die departement dra sy innige meegevoel aan die geliefdes van die oorledene oor,” het La Hoe bygevoeg.
Volgens Xoliswa Chubana, Sanral se koördineerder vir belanghebbende betrokkenheid, is ’n gekwalifiseerde senior brug-inspekteur Maandag (20 Januarie) vir ’n noodinspeksie na die Kramatweg-brug gestuur.
“Die inspeksie het aan die lig gebring dat die slag teen die brug deur die te groot hoogte van die voertuig tot gelokaliseerde afskilfering en gebreekte/afgesplinterde beton aan die dek en kante gelei het. Geen laterale beweging op die onderstruktuur of laers is bespeur nie en die dek se reaksie op die voorval blyk binne perke te wees. Die brug word dus as struktureel stabiel beskou. Sanral sal binnekort met herstelwerk aan die afgeskilferde beton en middelversperring begin,” het Chubana gesê.
Sy het voorts verduidelik dat die vragmotor met die skeepsvraghouer se algehele hoogte van 5,28 meter die wettige hoogtebeperkings volgens die Nasionale Padverkeerswet oorskry het.
“Die wet bepaal dat voertuie ’n maksimum hoogte van 4,3 meter mag hê – 4,65 meter vir dubbeldekbusse – en hierdie vragmotor was dus abnormaal hoog,” het sy gesê.
Die brug voldoen steeds aan die wetlike vereistes van 5 m, en Sanral is nie bewus van enige vorige voorvalle by hierdie brug nie. Sanral oorweeg dit egter om padtekens aan te bring wat motoriste vooraf waarsku oor die brug se hoogte, al is sulke tekens gewoonlik tot brûe onder 5 m beperk.
“Die grootste probleem bly egter die beheer van voertuie met abnormale hoogtes, soos die een wat die ongeluk veroorsaak het,” het sy bygevoeg.
Sanral ondersoek nou die vragmotor-operateur om vas te stel of die regte permitte en klaringe vir die vragmotor verkry is. Volgens wet moet voertuie hoër as 4,7 meter spesiale permitte hê en hoogte-opsporingstelsels hê. “Dit blyk dat dit nie in hierdie geval gebeur het nie,” het Chubana gesê.
DistriksPos & Helderberg Gazette het by die vragmotor-operateur navraag gedoen, maar geen kommentaar was teen die tyd van publikasie beskikbaar nie.





