Die slagoffer van verlede Dinsdag (27 Februarie) se noodlottige ongeluk op die N2 is geïdentifiseer as ’n jongman van die Kom.
Dit volg nadat die Somerset-Wes-polisie ’n beroep op die breër Helderberg-gemeenskap gedoen het vir inligting wat kan help om die ongelukslagoffer uit te ken (“Polisie vra Helderberg-gemeenskap om hulp,” Netwerk24, Woensdag 28 Februarie).
Johan Willemse (34) van Broadlandspark, Strand, se lewe is Dinsdagoggend kort voor die middaguur kortgeknip toe hy op die snelweg naby die R44-afrit by Somerset Mall doodgery is.
Plaaslike polisiebeamptes het omstreeks 11:20 op die ongelukstoneel gereageer. Willemse, wat toe nog ’n onbekende voetganger was, is noodlottig beseer toe hy oor die besige pad wou hardloop, maar deur ’n motor getref is.
Volgens die polisie het die bestuurder van die Hyundai Tucson na bewering in die rigting van Kaapstad in die vinnige (regter-) baan op die snelweg gery. Volgens hom was heelwat verkeer op die pad en hy het net ná die afrit spoed vermeerder.
Die voetganger het skielik oor die pad gehardloop. Die bestuurder sê hy het probeer uitswaai, maar dié poging om ’n botsing te vermy, het misluk. Die motoris het die voetganger met die linkerkant van sy voertuig getref en die slagoffer se kop het die voorruit getref.
Plaaslike owerhede, insluitend die verkeersafdeling, het op die tragiese voorval gereageer.
’n Klagte van strafbare manslag word ná die gru-ongeluk deur polisiespeurders ondersoek en die polisie het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met inligting wat kan help om die ongelukslagoffer – ’n bruinman, vermoedelik iets in die 30, wat ten tyde van die ongeluk ’n vaal sweetpakbroek, bruin baadjie en blou tekkies aangehad het – te identifiseer.
Willemse se suster, Juanita (46), het die koerant meegedeel hulle het bekommerd geraak toe haar broer Dinsdagaand nie huis toe gekom het nie. Volgens die bedroefde naasbestaande het haar broer baie gestap en sy het hom Dinsdagoggend laas lewend gesien toe hy van die huis af weg is. Sy het bygevoeg haar broer het nooit uitgeslaap of weggebly nie.
Die gesin het Willemse die volgende oggend as vermis aangemeld en hul eie soektog na hom van stapel gestuur.
Nadat hulle alle hospitale besoek en die besluit geneem het om lykshuise te bel, het ’n familielid aangebied om Vrydagoggend die Tygerberg-lykshuis te gaan besoek. “By navraag is my niggie se man meegedeel dat ’n manspersoon wel ingebring is, maar nog nie geïdentifiseer is nie. Ek en my ma is dieselfde dag nog na die lykshuis,” het sy gesê.
Juanita het haar geliefde broer as ’n goedgeaarde en goedgemanierde mens beskryf en gesê sy gaan veral sy vriendelikheid en die glimlag wat geen omstandigheid van sy gesig kon verwyder nie, mis. Willemse word oorleef deur sy ouers (65 jaar), sy suster, Juanita, en ’n ouer broer.



