Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat ’n sewe maande swanger vrou beweer het haar voormalige kêrel het haar motor op die N2 laat rol.
Die slagoffer en haar ongebore baba is ongedeerd ná die voorval wat op Saterdag 15 Februarie plaasgevind het.
Luidens ’n polisieverslag het polisiebeamptes omstreeks 16:30 op die voorval tussen die Macassarweg-brug en ’n vulstasie, rigting Kaapstad, gereageer.
Die slagoffer beweer dat die verdagte haar na ’n afspraak vervoer het. Ná die afspraak het sy haar ekskêrel glo dronk aangetref en het sy besluit om self agter die stuurwiel in te klim.
Sy beweer terwyl sy bestuur het, het ’n woordewisseling tussen haar en die verdagte uitgebreek. Hy het glo toe met haar bestuur begin inmeng. Eers het hy die handrem opgetrek en daarna aan die stuurwiel begin pluk terwyl sy hom probeer keer het.
Die motor het in die proses omgeslaan en op die snelweg gerol.
Die slagoffer beweer dat ’n verkeersbeampte wat op die toneel was, haar na haar huis in Eersterivier begelei het ná die ongeluk.
“Beamptes was op die toneel en het die slagoffer tot by Baden Powell-weg begelei. Van daar is sy na ’n polisiekantoor in Eersterivier om die ongeluk aan te meld,” het Kevin Jacobs, woordvoerder van die Stad Kaapstad se verkeersdienste, gesê.
Jacobs het gesê verkeersdienste kan nie kommentaar lewer op die slagoffer se bewering dat die verdagte dronk was nie.
Hy het bygevoeg dat, aangesien die verdagte nie die bestuurder van die motor was nie, die verkeersbeampte nie ’n nugterheidstoets gedoen het nie.
Hy het ontken dat die beampte die slagoffer of verdagte huis toe geneem het.
“Die beampte en die slagoffer het die toneel op dieselfde tyd verlaat. Die beampte het agter die slagoffer gery en hulle het albei die Baden Powell-afrit geneem. Die beampte was op pad terug na Somerset-Wes, en die slagoffer het met haar reis voortgegaan,” het Jacobs gesê.
Die saak is na die Macassar-polisie oorgeplaas vir verdere ondersoek. Die verdagte, wat vermoedelik in Gugulethu woon, word steeds deur die polisie gesoek.
- Enigiemand met inligting oor die saak word aangespoor om die Macassar-polisiekantoor by 021 857 7125 te bel.



